Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Mei 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Johannesburgers staar ‘n koue winter in die gesig nadat Eskom gedreig het om die krag af te sny oor skuld van 5,3-miljard-rand. Die elektrisiteitsvoorsiener sê die stad het nie hul afbetalingsooreenkoms nagekom nie.

# En die Netwerk24-webblad:

Het vanoggend eerstens nuus oor drie hofsake, naamlik die moordverhoor van Japie Claassens van Vioolsdrif in die Noord-Kaap, die saak van Aletta Rose van Belville wat na bewering haar suster se kop en hande afgesny het, en die moord op Kirstin Kluyts wie se liggaam in die George Lea-park in Sandton gevind is.

En tweedens is daar nuus oor Rassie Erasmus se nasionale orde wat hy nie self in ontvangs geneem het nie.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die MK-party het sy voormalige nasionale woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, beveel om onmiddellik op te hou om partyhulpbronne, insluitend bankrekeninge, sosialemediaplatforms en amptelike kommunikasiekanale, te gebruik. Sy ontslag spruit voort uit bewerings van wangedrag en dat hy verdeeldheid binne partygeledere saai.

# Sowetan:

Berig die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, het ‘n dringende vergadering met die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, aangevra om die stad se kragkrisis te bespreek en die afsny van elektrisiteit te verhoed.

# En The Citizen:

Skryf dit het aan die lig gekom dat nagenoeg 71-miljoen-rand die afgelope twee jaar by die Vergoedingsfonds verdwyn het. Dit word toegeskryf aan swak beheermaatreëls wat nie die bedrog ontbloot het nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig daar is talle vrae oor die vrywaring van generaal-majoor Wally Rhoode vir sy aandeel in die Phala Phala-ondersoek. Hy is in ‘n interne tugverhoor onskuldig bevind aan enige wangedrag terwyl die Onafhanklike Polisie-ondersoekdiretoraat die teendeel bevind het.

En tweedens skryf die koerant die geraamde brandstofpryse vir Junie dui op verligting in die dieselprys en ‘n geringe styging in die petrolprys.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ‘n senior polisieoffisier van Gqeberha word ondersoek na bewerings van wangedrag en magsmisbruik aan die lig gekom het. Die ondersoek fokus ook op die kolonel se beweerde seksuele verhouding met ‘n sersant.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, gaan ingryp by die Northdale-hospitaal nadat die Msunduzi-metro gedreig het om die kragtoevoer af te sny. Die hospitaal skuld sowat 12-miljoen-rand aan die munisipaliteit en daar is tans ‘n forensiese ondersoek aan die gang.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig sekere uitbetalings van lewensversekering in Namibië mag nou teen krediteure beskerm word, selfs wanneer ’n polishouer diep in die skuld of insolvent sterf.

En tweedens skryf die koerant die Windhoekse Hoërhof verhoor ’n saak van mediese nalatigheid met ’n eis van 17-miljoen-rand deur die ma van ’n vierjarige meisie wat na bewering blind, verlam en met breinskade gelaat is ná ’n mangel- en adenoïed-operasie by die Windhoek Sentrale Hospitaal.