Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Mei 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Gauteng oorweeg ‘n gedesentraliseerde model vir die bestuur van onderwysfinansies met die munisipale skuld van skole wat tot 583-miljoen-rand gestyg het. Die LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, wil hê skole moet hul eie finansies bestuur.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die familielede van staatsamptenare sal eersdaags ook hul belange moet verklaar as deel van die leefstylouditproses. Die minister van Staatsdiens en Administrasie, Mzamo Buthelezi, sê wetgewing in die verband word beplan.
Tweedens skryf die webblad die woordvoerder van die presidensie wou nie inligting bevestig oor president Cyril Ramaphosa se volgende stappe te midde van die moontlikheid dat hy in ‘n staat van beskuldiging geplaas kan word nie.
En laastens word berig die 30-jarige Anele Daniel Nkomo is tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op die 70-jarige Catherina Petronella Kruger in Grootvlei, Mpumalanga in 2023.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Ramaphosa wil die Phala Phala-ampsklagverrigtinge vertraag. Volgens ANC-bronne het die president besluit om ‘n interdik teen die verrigtinge te verkry, met die party wat die skuif steun.
# Sowetan:
Berig die inwoners van Emfuleni lewe onder vieslike omstandighede met vullis wat daagliks ophoop. Die munisipaliteit skryf die probleem toe aan die wanbetaling van diensverskaffers.
# En The Citizen:
Skryf oor gevaarlike straatwedrenne wat besig is om toe te neem. Altesaam 40-persent van die sowat 21-duisend padsterftes jaarliks word hieraan toegeskryf.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Wes-Kaap staal hom vir nog reën en skadelike wind. Die Weerdiens waarsku teen ‘n nuwe stelsel wat vroeg die week kan ontwikkel en vir reën in die Overberg- en Tuinroetestreek sal sorg.
En tweedens skryf die koerant sewe mense is die afgelope naweek in twee afsonderlike voorvalle in Kaapstad doodgeskiet. Die polisie sê dit blyk dat die moorde bendeverwant is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig verwaarlosing, misdaad en vloedskade het Nelson Mandelabaai se begraafplase in tonele van verwoesting verander, waar families beroof word as hulle grafte besoek.
En tweedens skryf die koerant ‘n gesin van Kariega se laaste eer aan hul geliefde het in ‘n nagmerrie ontaard toe hulle onwetend ‘n vreemdeling begrawe het na ‘n verwarring by ‘n begrafnisondernemer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die regering is besig met ’n reuse-ingryping om plaaslike regering te herstel.
En tweedens word berig die Wêreldgesondheidsorganisasie het die uitbreking van Ebola as krisis verklaar.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die soektog na die volgende uitvoerende hoof van die Maatskaplike Voorsorgkommissie is gestaak, nadat die kabinet beswaar gemaak het oor die opgeblase uitvoerende salarisse en lagwekkende ledevoordele by die instelling.
En tweedens skryf die koerant in Okahandja het die dorp se verwaarloosde begraafplaas die vergaderplek geword vir alkohol- en dwelmmisbruikers.