Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Mei 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Transnet het ingrypende stappe gedoen om die nasionale spoornetwerk te hervorm deur 11 privaat maatskappye aan te wys om die diens te bestuur. Die maatskappye sluit in Grindrod, MSC en Menar.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens die Kaapse storms het tot dusver reeds tien lewens geëis. Honderde mense is dakloos gelaat. Daar is steeds gemeenskappe wat deur die oorstromings afgesny is van die buitewêreld. Tientalle mense is ook uit die vloedwater gered.
En tweedens skryf die webblad die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê ‘n NUK-vergadering is vir vanaand belê om die Phala Phala-uitspraak te bespreek. President Cyril Ramaphosa is versoek om nie die vergadering by te woon nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Ramaphosa het ‘n nuwe ronde regterlike aanstellings aangekondig wat daarop gemik is om die land se howe te versterk en die regspleging oor verskeie afdelings van die regbank te verbeter. Die aanstellings strek van die Appèlhof en die Gautengse Hooggeregshof, tot die Oos- en Wes-Kaapse afdelings van die Hooggeregshof.
# Sowetan:
Berig oor ‘n taxibaas bekend as Joe “Ferrari” Sibanyoni van Mpumalanga wat saam met twee medeverdagtes in die Kwaggafontein-landdroshof verskyn het. Hy het na bewering die bestuurder van ‘n plaaslike myn afgedreig om 2,2-miljoen-rand se beskermingsgeld te betaal.
# En The Citizen:
Skryf Ramaphosa se besluit om vas te staan teen die aanklagte teen hom het diegene wat teen hom saamgesweer het, ontspoor. Bronne in die ANC sê egter die stryd is nog nie verby nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook breedvoerig oor die Kaapse storms. Die koerant het ‘n fotobeeld van die stormskade en skryf talle bergpasse is steeds gesluit.
En tweedens skryf die koerant die sogenaamde Krugerwildtuin-jaagduiwel, Petrus Janse van Rensburg, het verskoning gevra vir sy manewales. SANparke sê egter hy gaan steeds die gevolge dra.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai se jongste waarnemende stadsbestuurder, Charity Sihunu, is gewaarsku dat sy ‘n slangput betree.
En tweedens skryf die koerant ‘n vals naamsverandering na Mathitipipi vir Port Alfred wat in ‘n fopberig versprei is, het sosiale media aan die gons.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor die ANC-vergadering waartydens die lot van Ramaphosa bespreek gaan word.
En tweedens word berig die Comrades-marathon sal voortaan om kwart voor ses en ses uur wegspring om daglig beter te benut.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Gedenk vandag Hemelvaartdag en daar is geen uitgawe van die koerant nie.