Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Mei 2026:

NASIONAAL:

Business Day:

Berig die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, is onder druk met die Openbare Beskermer wat ondersoek instel na die verkrygingsproses van handboeke vir grade een tot drie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê daar is reeds 97 mense in die land nagespoor wat kontak met die hantavirus gehad het. Altesaam 86 van die mense is in Gauteng. Motsoaledi sê hulle sal oor die volgende ses weke gemonitor word.

En tweedens skryf die webblad uitspraak is voorbehou in die uitsettingsaansoek oor die besetting van Transnet se grond in Kaapstad.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die minister van Gesondheid se ampsmotor was betrokke in ‘n noodlottige ongeluk op die N1 in Limpopo. ‘n Ma en kind is in die voorval dood. Die polisie ondersoek strafbare manslag.

En tweedens word berig die omstrede KwaZulu-Natalse aktivis, Ngizwe Mchunu, het ten sterkste ontken dat hy self sy huis in Mbumbulu by Durban aan die brand gesteek het.

# Sowetan:

Berig die toekoms van die regering van nasionale eenheid is onseker. Die DA-leier Geordin Hill-Lewis sê die party sal nie vir Ramaphosa beskerm indien bevind word dat hy verkeerd opgetree het nie.

# En The Citizen:

Lei met “MISSING BILLIONS LEAVE TOTS STRANDED”. Die koerant het ondersoek ingestel na die miljarde rand wat uit maatskaplike bestuur geplunder word.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig talle paaie en passe in die Wes-Kaap is steeds gesluit na die ernstige stormweer in die gebied. Die provinsiale regering het ‘n beroep op inwoners gedoen om geduldig te wees terwyl die herstelwerk aan die infrastruktuur voortduur.

En tweedens skryf die koerant die minster van Landbou, John Steenhuisen, sê die krisis met entstof vir bek-en- klouseer is nou afgeweer.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die jongste werkloosheidsyfer vir die Oos-Kaap is glad nie belowend nie. Die provinsie se 42,5-persent is die hoogste in die land.

En tweedens is daar nuus oor huldeblyke vir die drama-onderwyser en diereregtekampvegter, Linda-Louise Swain.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf dele van die honderd jaar oue dak van die St Mary’s Church in Pietermaritzburg is gesteel. Die dakteels is vervaardig van koper en lood.

En tweedens word berig die ondersoek na diegene wat aan die hantavirus blootgestel is, duur steeds voort.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Diens het erken infrastruktuur- en personeeltekorte het verlede maand tot die ontsnapping van ’n geestesongestelde pasiënt bygedra.

Tweedens skryf die koerant die name van die drie Duitse slagoffers en vlieënier van die vliegtuigongeluk in die Sossusvlei-gebied is bekend gemaak.

En laastens word berig oor ‘n ondersoek na stamgebondenheid in die Windhoek-stadspolisie.