Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Mei 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor die storie van die dag naamlik dat president Cyril Ramaphosa gesê het hy gaan nie bedank oor die Phala Phala-verslag nie. Die president gaan die onafhanklike paneelverslag bevraagteken wat daarop dui dat hy antwoorde moet gee oor beskuldigings teen hom.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens ook oor Ramaphosa se besluit, maar dan gee die koerant ‘n volledige uiteensetting van hoe die Parlement die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die Phala Phala-aangeleentheid gaan hanteer.
Dan skryf die webblad die beskuldigde in die moord op die insolvensiepraktisyn, Bouwer van Niekerk, Mukelani Ntombela, het uiteindelik ‘n regspan nadat sy vorige regsverteenwoordigers onttrek het.
En laastens is daar nuus oor verskeie vlugte uit Kaapstad wat ontwrig of gekanselleer is weens die storm.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook dat Ramaphosa gesê het hy gaan nêrens heen nie.
En berig tweedens die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, het reeds 2,2-miljoen-rand ontvang om tuis te bly.
# Sowetan:
Lei met “WOUNDED ‘BUFFALO’ FIGHTS ON”. Die koerant berig die president gaan die Artikel 89-verslag teen hom in die hof beveg.
# En The Citizen:
Skryf Ramaphosa sê hy gaan nie toegee aan diegene wat slegs die aandag wil aflei van teen-korrupsie aksies soos die Madlanga-kommissie nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die dodelike storms wat die Kaap getref het en berig oor talle voorvalle waartydens die infrastruktuur beskadig of vernietig is. Voorts skryf die koerant dat Wes-Kaapse skole vandag steeds gesluit is met nog gure weersvooruitsigte vir die provinsie.
En tweedens het die koerant ook nuus oor Ramaphosa se toespraak.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig soos talle dagblaaie ook dat “‘n uitdagende” Ramaphosa gesê hy sal nie bedank nie.
En tweedens skryf die koerant oor die vernietigende uitwerking van die gure weer in die Oos-Kaap.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Lei ook met Ramaphosa.
En tweedens skryf die koerant die omstrede aktivis Ngizwe Mchunu se huis in Mbumbulu by Durban, is na bewering opsetlik aan die brand gesteek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die standaardtariewe van die Vereniging vir Mediese Fondse in Namibië is steeds die verwysingspunt vir die verwerking van eise en administrasie van voordele van Namibia Health Plan.
En tweedens skryf die koerant die vlieënier van ‘n ligte vliegtuig wat in die suidweste van die land neergestort en die lewens van vier mense geëis het, was volgens berigte uiters ervare.