Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Mei 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Mededingingskommissie het ‘n klagte oor samespanning in die betaaltelevisiemark teen MultiChoice en Altech na die Mededingingstribunaal verwys vir vervolging. Die koerant skryf MultiChoice kan tot 4,1-miljard-rand verloor in die saak.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, sê Suid-Afrika se wapenuitvoere het verdriedubbel as gevolg van die wêreldwye konflik. Sy sê egter die regering is bekommerd oor die beheer oor wapenuitvoere.

Dan skryf die webblad die DA het president Cyril Ramaphosa gekritiseer oor sy informele besoek aan sy ampsgenoot in Zimbabwe, Emmerson Mnangagwa. Die party sê die regering van Zimbabwe probeer sy diktatuur deur wetgewing verstewig.

En laastens word berig die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente is onder administrasie geplaas na ernstige bestuurs-, finansiële en operasionele uitdagings binne die instelling. Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die aanstelling van professor Hlengani Mathebula van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie as skema-administrateur aangekondig.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf ook oor Manamela wat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente onder administrasie geplaas het weens onbestendigheid, ouditmislukkings en operasionele ineenstorting.

# En Sowetan:

Berig die ministerie van Gesondheid het die publiek gerus gestel oor die uitbreking van die hantavirus aan boord van ‘n passasierskip op pad na Kaap Verde. Die ministerie sê die virus word nie maklik van mens tot mens oorgedra nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die beweerde moordenaar van die insolvensieprokureur, Bouwer van Niekerk, het in die Johannesburg-landdroshof verskyn. Die staat beweer die 33-jarige Mukelani Ntombela het Van Niekerk op 5 September verlede jaar in die raadsaal van die SmitSew Attorneys in Saxonwold doodgeskiet. Die koerant berig Ntombela se advokaat het onttrek toe hy hoor wie die slagoffer is.

En tweedens skryf die koerant die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku ‘n laagdrukstelsel kan die week swaar reën, skadelike wind en selfs sneeu in groot dele van die land tot gevolg hê.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig Ramaphosa het die optrede van die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, gesteun tydens ‘n besoek aan die stad.

En tweedens skryf die koerant ook oor die landswye gure weer wat verwag word.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Departement van Binnelandse Sake het sy optrede teen korrupsie verskerp, met nuwe arrestasies wat die getal ontslag en tugstappe sedert Julie 2024 op meer as 60 te staan ​​bring. Die optrede geskied in samewerking met die Spesiale Ondersoekeenheid.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig eerstens die gemeenskap van Khorixas is in rou gedompel ná ‘n gru-ongeluk wat in ‘n oogwink die lewens van 11 mense geëis het.

En tweedens skryf die koerant Babelse verwarring het die langnaweek by Sossusvlei geheers toe selfry-besoekers eers gehoor het hul mag nie op hul eie Dooievlei besoek nie, net om later te hoor hulle mag dit wél op eie stoom doen.