Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Mei 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Konstitusionele Hof hoor vandag twee groot uitdagings aan teen die Nasionale Gesondheidsversekeringswet. Die kwessie waaroor beslis moet word is die vraag of die Parlement die publiek se insette voldoende oorweeg het voordat die wet goedgekeur is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die koloniale en apartheidserfenis word uit klaskamers gedryf. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het in die Parlement gesê Suid-Afrika se grondwetlike beginsels in Afrika-konteks moet beter weerspieël word.
Dan skryf die webblad drie mense is dood en ‘n vierde word in Johannesburg behandel nadat hulle vermoedelik aan boord van ‘n passasierskip die hantavirus opgedoen het. Die boot was onderweg van Argentinië na Kaap Verde.
En laastens word berig die Verkiesingskommissie vergader vandag met oudpresident Jacob Zuma en die MK-party oor die verkiesing.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum se ondersoek na die geskiktheid van sy voorsitter, Makhudu Sefara, het talle media-etiese vrae laat ontstaan. Sefara is deur die Spesiale Ondersoekeenheid betrek by ‘n ondersoek na loterygeld.
En tweedens word berig die Parlement word vandag ingelig oor die loteryskandaal.
# Sowetan:
Berig die inwoners van Ebonypark Fase 1 in Midrand is moedeloos gewag vir kragvoorsiening van Eskom. Die gemeenskap bestee duisende rande aan hout en gas terwyl hulle sedert April 2025 wag dat ‘n beskadigde transformator herstel word.
# En The Citizen:
Skryf hoewel adjunkpesident Paul Mashatile oortuig is van die ANC se sukses in die verkiesing, sê ontleders die party se steun is steeds besig om te daal en die vorming van koalisies is die enigste uitweg.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die vermeende krokodilslagoffer van Mpumalanga. Die koerant skryf ‘n sakeman van Gauteng en gastehuiseienaar in Komatipoort, Gabriel Batista, is na bewering meegesleur toe hy oor die laagwaterbrug oor die Komatirivier gery het. ‘n Krokodil is van kant gemaak en menslike oorskot is in die dier gevind. DNS-toetse sal nou uitgevoer word.
En tweedens is daar nuus oor die noue ontkoming van die span van die Villagers Montagu-rugbyklub toe die bus waarin hulle gery het se remme gefaal het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig verskeie internasionale geleenthede wat in Nelson Mandelabaai aangebied word, bied geleenthede vir die toerismebedryf in Gqeberha om te groei.
En tweedens skryf die koerant die status van die Blouvlag-strande in Gqeberha is onder druk.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf verskeie Afrikalande het gereageer oor die voorkoms van vreemdelingehaat in Suid-Afrika. Die opposisieleier in Zimbabwe, Nelson Chamisa, sê dit is nie meer ‘n huishoudelike probleem nie, streeksingryping is nodig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Vandag is Cassinga-dag in Namibië en daar is dus geen uitgawe nie.