Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig nadat slegs sewe van 18 raadslede van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente oor is, gaan die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, ondersoek instel of die skema se raad nog sy doel dien.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die rektor van die Universiteit Stellenbosch, professor Deresh Ramjugernath, sê daar kon geen bewyse van rassisme gevind word in die ondersoek na die inbraak by die Majuba-koshuiskamer van Kylo le Roux nie.
Dan skryf die webblad die munisipale bestuurder van Mangaung, Sello More, het sy salarisverhoging van 700-duisend-rand verdedig en sê dit is slegs ‘n aanpassing om hom in lyn te bring met diegene wat aan hom rapporteer.
En laastens is daar nuus oor prins William en prinses Kate van Brittanje se 15de huweliksherdenking.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het minister Sisisi Tolashe verdedig te midde van aantygings oor onverklaarde sportnutsvoertuie in haar besit en bewerings dat openbare hulpbronne vir haar private voordeel aangewend is.
En tweedens word berig Gift of the Givers het sy rampreaksiespanne in die Noord-Kaap ontplooi nadat erge haelstorms en oorstromings gemeenskappe kwesbaar gelaat en huise beskadig het.
# Sowetan:
Berig die diens van ‘n veiligheidswag by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal is beëindig na klagtes oor sy pensioenbydraes. Die eienaar van die sekuriteitsmaatskappy, Calvin Mathibele, ontken dat daar enige bydraes weg is, hoewel die bewyse in besit van die werknemers op die teendeel dui.
# En The Citizen:
Skryf 80-persent of 102-miljard-rand van die polisie se begroting word aan salarisse bestee. Volgens die kommissaris van polisie, luitenant-generaal Puleng Dimpane, is 400-miljoen-rand ook opsy gesit vir die verkiesing later vanjaar.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die 19-jarige Fiano Swiers, ‘n matriekleerder van Saldanha, wat op pad skool toe asemhalingsprobleme ondervind het en kort daarna oorlede is. Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie.
En tweedens skryf die koerant die Hooggeregshof in Pretoria het die minister van Landbou, John Steenhuisen, tot 5 Mei uitstel verleen om sy nasionale inentingsplan vir bek-en-klouseer te publiseer.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Hooggeregshof in Gqeberha het ‘n KI-video gesien oor hoe die vermoorde 19 maande oue Krisley Dirker se lewe kon uitdraai sou sy gelewe het. Robin Clarke is in Desember skuldig bevind aan haar moord in 2013.
En tweedens skryf die koerant oor die Tjommie-stelsel wat in Nelson Mandelabaai geïnstalleer is om elektrisiteitsverbruik te bestuur.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf veediefstal in Kwazulu-Natal is ‘n steeds groeiende probleem.
En tweedens word berig die watersituasie in Albert Falls gee rede tot kommer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Namibië se onderwysstelsel het verlede jaar 13-duisend-450 skoolverlaters gelewer. Tienerswangerskappe is steeds ‘n probleem wat onderwys benadeel.
Dan skryf die koerant die gemeenskap van Hentiesbaai het kommer uitgespreek ná ’n reeks brande by die verlate Spitzkoppe-restaurantgebou.
En laastens is daar aangrypende foto’s van die Ruacana-waterval in vloed.