Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor Suid-Afrika se KI-dilemma nadat dit aan die lig gekom het die beleid is gegrond op vals akademiese bronne. Die koerant skryf menslike oorsig is steeds die beste.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die swak opkoms gister by president Cyril Ramaphosa se Vryheidsdagboodskap dui volgens ontleders daarop dat die ANC se steun besig is om verder terug te sak.
Tweedens skryf die webblad bykans 80 motoriste is tydens die langnaweek landswyd vasgetrek omdat hulle probeer het om verkeersbeamptes om te koop.
En laastens word berig die 31-jarige Cole Allen wat na bewering probeer het om president Donald Trump te skiet, het in die hof verskyn.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf eerstens oor Ramaphosa se waarskuwing teen xenofobia tydens sy Vryheidsdagboodskap. Hy het gesê mense kan nie toelaat dat haat oorneem in hul verhouding met mede-Afrikane nie.
En tweedens berig die koerant ‘n polisiekonstabel wat nie aan diens was nie en wat probeer het om ‘n skietvoorval by ‘n taverne in Richmond, KwaZulu-Natal, te ondersoek, is Sondagoggend in die vroeë oggendure doodgeskiet.
# Sowetan:
Berig terwyl Ramaphosa uitgevaar het teen die diefstal van staatsgeld en gesê het elke rand wat gesteel word is ‘n aanval op demokrasie, wag die inwoners van Sebokeng steeds op ‘n kliniek waaraan reeds 20,9-miljoen-rand bestee is.
# En The Citizen:
Skryf kommer oor die beskikbaarheid van stralerbrandstof duur steeds voort aangesien voorsiening in die volgende ses weke onseker is. Die koerant berig dit raak alle Suider-Afrikaanse lugdienste en kan die opskorting van verskeie vlugte tot gevolg hê.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, het die konsepbeleid oor Kunsmatige Intelligensie onttrek nadat bevind is dit bevat vals akademiese bronne. Malatsi sê sterker maatreëls vir kunsmatige intelligensie-bevestiging sal ingestel word om die geloofwaardigheid van beleidsraamwerke te beskerm.
En tweedens skryf die koerant Chantel Vermeulen is Saterdagaand dood in ‘n motorongeluk op een van die besigste kruisings in Brackenfell. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die vernaamste reservoirs in Gqeberha verkeer onder ernstige druk as gevolg van swak bestuur en buitensporige watergebruik. Dieselfde geld ook vir die Impofudam wat slegs 40-persent vol is.
En skryf die Grey High School in Gqeberha het hul rugbyfees die afgelope naweek op ‘n hoogtepunt afgesluit met ‘n 34-12 oorwinning oor Glenwood.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens ook oor Suid-Afrika se KI-dilemma.
En tweedens word berig daar is goeie vordering om Suid-Afrika se spoornetwerk oop te stel vir vragvervoer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese Tandartsvereniging het alle behandeling van lede van die Namibia Health Plan gestaak, tensy die pasiënte bereid is om uit hul eie sak te betaal en dit self terug te eis.
En tweedens skryf die koerant Namibiese landdroshowe het in Maart 11-duisend-892 uitgestelde sake aangeteken, met polisieondersoeke wat vir drie-duisend-490 vertragings verantwoordelik was.