Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het ‘n ekonomiese groeiplan aan beleggers voorgelê in ‘n poging om die provinsie se probleme op te los.
# Mail & Guardian
Skryf die land wag op hete kole vir die vonnis in die EFF-leier, Julius Malema se wapensaak. Hy word volgende week gevonnis.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig Malema sê die EFF sal dit glad nie oorweeg om deel van die regering van nasionale eenheid te wees terwyl die DA en VF Plus lede is nie. Hy sê die EFF het by die Gautengse koalisie aangesluit omdat die partye nie daar betrokke is nie.
Dan skryf die webblad president Cyril Ramaphosa het aan die Amerikaanse sakekamer gesê daar is goeie tekens uit die VSA oor Suid-Afrika se verhoudinge. Dit volg ook nadat die Amerikaanse ambassadeur Leo Bozell gesê het daar is groot aankondigings in die volgende twee weke.
En laastens is daar nuus oor die MK-party wat al sy plaaslike strukture voor die verkiesing ontbind en met ‘n tydelike verkiesingsmeganisme vervang het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Madlanga-kommissie het gehoor die Stad Tshwane het moontlik betaal vir sekuriteitsdienste wat nie deur diensverskaffers gelewer is nie. Dit is weens kapasiteitsprobleme in moniteringsterreine volgens die Diensvlakooreenkoms.
# En Sowetan:
Berig ook oor die bewerings van korrupsie in Tshwane. Die finansiële bestuurshoof, Gareth Mnisi se luukse lewenstyl, waaronder sy eiendomme ter waarde van 36-miljoen-rand en sy luukse motors, sal volgende week in die soeklig geplaas word wanneer hy voor die Madlanga-kommissie verskyn.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n vrou gaan moontlik van moord aangekla word nadat sy ‘n vermeende grypdief in Bishop Lavis doodgeskiet het. Sy het van die toneel weggejaag. Volgens regskenners kan daar slegs op selfverdediging gesteun word indien dit die slagoffer se enigste uitweg was.
En tweedens skryf die koerant nooddienswerkers is besteel terwyl hulle besig was om ‘n bejaarde in ‘n ambulans in Bonteheuwel te laai. Twee mans is later in hegtenis geneem en van die gesteelde goed is teruggevind.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor die klopjag wat by die St Albans-gevangenis uitgevoer is en die atikels waarop beslag gelê is.
En tweedens skryf die koerant raserige studente sorg vir slapelose nagte vir die inwoners van Walmer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar word ondersoek ingestel na die swak dienslewering en personeeltekort by die Mkondeni-lisensiesentrum.
En berig tweedens oor die wenslikheid van die betaling van kontant vir fluitjieblasers.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n Russiese bemanning is glo vir maande lank gestrand gelaat op ’n vissersboot. Die Russiese ambassade is bewus van die situasie en die maantskappy wat die boot besit, Hodago Fishing sê hulle werk aan die probleem
En tweedens skryf die koerant ’n voorgestelde verbrandingsoond vir mediese afval by die Welwitschia Universiteitkampus in die Ocean View-woonbuurt in Swakopmund, het openbare kommer ontketen.