Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 April 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa het by die geleentheid van die ontvangs van diplomate se geloofsbriewe gesê nie-inmenging is die goue reël. Hy het die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell en ander gewaarsku teen inmenging in die gasheerland se aangeleenthede.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig volgens kenners gaan die twee weke lange skietstilstand tussen die VSA/Israel en Iran nie lank genoeg wees om die strategiese Straat van Hormoes oop te stel nie.

Dan skryf die webblad ActionSA het ‘n klag teen die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe ingedien vir die ontvangs van twee voertuie ter waarde van een-miljoen-rand van die Chinese sonder om dit te verklaar.

En laastens is daar nuus oor ‘n buitelandse toeris op besoek aan die Kruger-wildtuin wat met twee-duisend-500-rand beboet is nadat hy uit sy voertuig geklim het om foto’s van leeus te neem.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Konstitusionele Hof het Cash Paymaster Services gelas om meer as 81-miljoen-rand aan die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap terug te betaal. Die hof het beslis dat CPS aangepaste winste moet terugbetaal wat verkry is uit ‘n kontrak wat voorheen ongeldig verklaar is.

# Sowetan:

Berig voormalige Aurora-werknemers wag ná 15 jaar steeds vir hul uitbetalings weens langdurige regsaksie en vertragings in die invordering van fondse. Aurora Empowerment Systems is besit deur oudpresidente Nelson Mandela en Jacob Zuma.

# En The Citizen:

Lei met: “US SA LIGHTS PEACE PIPE’. Die koerant skryf Bozell sê hy het lief geword vir Suid-Afrika en daar bestaan wedersydse respek.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ‘n eerstejaarstudent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie is by die Distrik Ses-kampus van die universiteit doodgery. Die Sentraal-polisiekantoor ondersoek die voorval.

Tweedens skryf die koerant oor vliegkaartjies wat tot twee-duisend-rand meer kan kos as gevolg van die brandstofpryse.

En laastens word berig ‘n polisieklerk van Bothaville in die Vrystaat het saam met nog ‘n persoon in die hof verskyn nadat hulle na bewering probeer het om vier leeuwelpies teen 100-duisend-rand elk te verkoop.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig oor ‘n geheime skenker wat die studiegeld van ‘n student betaal het.

En skryf betogings het gister Gqeberha tot stilstand geruk.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf plaaslike lugdienste in Suid-Afrika, insluitend FlySafair, het onlangs ‘n tydelike brandstoftoeslag ingestel om kaartjiepryse aan te pas weens stygende brandstofkoste. Hierdie toeslag het op 12 Maart 2026 in werking getree en geld vir vlugte wat op of voor 12 Mei 2026 vertrek.

En tweedens word berig buitelanders in Pietermaritzburg se winkels word deur die gemeenskap geteiken.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namibiese regering het 164-miljoen-rand aan vervaardigers van mediese toerusting bewillig wat in die volgende drie maande afgelewer sal word.

En tweedens skryf die koerant die ouma wie se jong kêrel haar kleinseun doodgeslaan het, vertel wat die noodlottige dag gebeur het.