Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ontleders en opposisieleiers is van mening die aanstelling van die EFF se Gautengse voorsitter, Nkululeko Dunga, as Gautengse LUR vir Finansies sal nie die provinsie se miljoene inwoners bevoordeel nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die nasionale atletiekkampioenskapsbyeenkoms vir skole wat van môre tot 12 April op die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg sou plaasvind is op die nippertjie uitgestel. Die byeenkoms sal nou van 29 April tot 2 Mei op die Pilditch-stadion in Pretoria aangebied word.
Tweedens skryf die webblad ‘n tornado het Pietermaritzburg Sondag getref en groot skade aangerig van die middestad tot in Bishopstowe.
En laastens is daar nuus oor Affies se segetog van 66-19 oor Grey’s High School van Gqeberha. Michael House het op sy beurt Jeppe High School for Boys met 40-36 geklop.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die DA in Gauteng het die Ouditeur-generaal se besluit verwelkom om ondersoek in te stel na die Gautengse Departement van Onderwys se kontrakte met die Matthew Goniwe Skool vir Leierskap en Bestuur. Die OG sal die regsgeldigheid van hierdie kontrakte bepaal vir die waarde daarvan vir Gautengse inwoners.
En tweedens word berig die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die regering sal nooit buig voor die VSA se dreigemente nie.
# Sowetan:
Lei met: “EASTER MADNESS”. Die koerant berig die polisie het die naweek sowat 15-duisend mense in hegtenis geneem vir moord, verkragting en verkeersoortredings. By ‘n duisend hiervan was alkoholmisbruik betrokke en in een voorval is ‘n kind dood in ‘n ongeluk toe hy sy dronk pa se motor moes bestuur.
# En The Citizen:
Bevraagteken Suid-Afrika se paroolstelsel nadat dit aan die lig gekom het dat bykans ses-duisend gevangenes op parool sedert 2024 geweldsmisdade gepleeg het terwyl hulle op parool was.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n 61-jarige fietsryer van Durbanville, Landon la Grange se bene moes afgesit word nadat ‘n taxi hom gister in Kampsbaai getref het. Albei sy arms is ook gebreek.
Dan skryf die koerant oor die aktrise en sangeres Ilse Klink wat ‘n vrou in ‘n agterplaas in Johannesburg gehelp het om te kraam.
Voorts is daar nuus oor die Artemis II-maansending. Die Orion-vaartuig se toilet was oor die naweek buite werking.
En laastens word berig Coca Cola wil 17,6-miljard-rand in Suid-Afrika belê.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig twee politieke aktiviste in Nelson Mandelabaai is koelbloedig doodgeskiet enkele dae voor die weermag se ontplooiing.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n fees van naweekskolesport.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die helfte van Suid-Afrika se drinkwater gaan verlore deur swak bestuur, verouderde infrastruktuur en lekkasies.
En tweedens word berig Midmar se toerismeplanne is bekend gestel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Windhoek moet jaarliks ses-duisend-450 gedienste erwe en huise lewer om ’n betekenisvolle verskil in sy groeiende agterstand in die verskaffing van behuising te maak. Teen die huidige tempo van 800-duisend-rand per jaar gaan dit 64 jaar neem om die agterstand in the haal.
En tweedens skryf die koerant boere in die suide van die land jubel en juig nadat hulle Paasnaweek met goeie reën geseën is, maar langs die Zambezirivier moes leerders na ander skole verskuif word.