Nuus 11:00
BULLETIN 8 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê eerwaarde Jackson was ‘n ware Afrikaan
# Minister Steenhuisen sê grootskaalse bek-en-klouseer inentings sal help om internasionale rooivleismarkte oop te stel
# En motorsport: George Russell van Mercedes wen Australiese Grand Prix
# President Cyril Ramaphosa sê die ontslape eerwaarde Jesse Jackson was ‘n Afrikaan en dus kan Suid-Afrika aanspraak maak op hom. Ramaphosa het in sy huldeblyk op die gedenkdiens vir die ontslape burgerregteleier in Chicago gesê Jackson was eensgesind met die mense van Suid-Afrika in hul moeilikste tyd. Die president het bygevoeg Jackson het aan die wêreld gesê die stryd om waardigheid in Amerika was onafskeidbaar van die stryd teen apartheid en ongeregtigheid in Suid-Afrika:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê grootskaalse bek-en-klouseer-inentings regoor die land sal help om die internasionale rooivleismarkte oop te stel. Hy het gepraat tydens ‘n inentingsveldtog in Magagula Heights in Ekurhuleni. Die minister sê die 2025-bek-en-klouseer uitbreking het die uitvoerbedryf miljarde-rande in verlore inkomste gekos weens ‘n verbod wat lande soos China ingestel het:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, beplan om ‘n voorstel aan die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamokolo Kubayi, te stuur oor die stigting van gespesialiseerde howe vir bendegeweld. Hy het in Westbury, Johannesburg, gepraat tydens die besoek aan die families wie se geliefdes Woensdag in ‘n massaskietery dood is. Die minister sê die voortdurende massamoorde in die land is ‘n bron van kommer vir die regering en polisie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, het die gewelddadige aanval op Hugo Louw veroordeel, wat onlangs op die R-365 naby die plaas Waa Drift in die Porterville-distrik plaasgevind het. Drie verdagtes is met die hulp van plaaslike plaaswagte en naburige boere aangekeer. Meyer het die ernstige uitwerking beklemtoon wat geweldsmisdaad en veediefstal op boerderygemeenskappe, voedselsekerheid en landelike ekonomiese bestendigheid het:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het gesê hy stel nie belang in onderhandelings met Iran nie en het die moontlikheid genoem dat die Iranse oorlog eers sal eindig wanneer Teheran nie meer ‘n werkende weermag of enige oorblywende leierskap aan bewind het nie. Trump het gister aan boord van Air Force One aan verslaggewers gesê die lugaanvalle kan veroorsaak dat onderhandelings irrelevant is as alle potensiële Iranse leiers doodgemaak word en die Iranse weermag vernietig word. Hy het vroeër die aanval geregverdig deur te sê Iran is ‘n bedreiging vir die Verenigde State.
# En motorsport: George Russell van Mercedes het die eerste wedren van die 2026 F1-seisoen, die Australiese Grand Prix in Melbourne Albertpark, gewen. Russell het sy spanmaat Kimi Antonelli met 2,9-sekondes geklop, ‘n perfekte begin vir F1 se nuwe tegniese era. Charles Leclerc van Ferrari het die derde plek behaal, gevolg deur Lewis Hamilton vierde. Die huidige kampioen, Lando Norris, het vyfde geëindig, terwyl Max Verstappen tot die sesde plek verbeter het nadat hy in die 20ste plek weggespring het. Die plaaslike held, Oscar Piastri, is uit die wedren toe hy op pad na die wegspringplek in ‘n ongeluk was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….