Nuus 06:00
BULLETIN 26 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan ‘n oorlogskamer stig om dienslewering te monitor en te evalueer
# Die goewerneur van Minnesota doen ‘n beroep op Trump om agente uit Minneapolis te onttrek
# En krieket: Suid-Afrika ly ‘n verpletterende nederlaag teen Australië in die o.19-Wêreldbeker
# Die ANC-adjunkpresident Paul Mashatile sê die party gaan ‘n diensleweringsoorlogkamer stig, wat deur die sekretaris-generaal Fikile Mbalula gelei sal word. Dit sal fokus op kwessies soos die verbetering van toegang tot water, die bou en instandhouding van infrastruktuur, paaie, en die hantering van kragverdeling. Mashatile het gister op die tweede dag van die ANC se nasionale uitvoerende komitee-lekgotla in Boksburg, Gauteng, gesê die diensleweringsoorlogkamer sal diensreaksies van sy lede op verskillende vlakke van regering kan koördineer:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, het die dringende behoefte benadruk vir ‘n omvattende raamwerk om klimaatsverwante rampe regoor Suid-Afrika te hanteer. Die departement se woordvoerder, Tsekiso Machike, sê munisipaliteite word aangespoor om hul rampreaksie in lyn te bring met die van die land, en beklemtoon dat proaktiewe beplanning noodsaaklik is om die impak van natuurrampe te versag:
# Eskom gaan opwekkingskapasiteit van tweeduisend-320 megawatt vrystel voor piektyd vanaand, om bestendige elektrisiteitsvoorsiening vir die week te handhaaf. Die kragvoorsiener se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê beplande instandhouding was gemiddeld vyfduisend-377 megawatt, wat 11,43-persent van die totale opwekkingskapasiteit verteenwoordig. Sy sê dit is effens meer as verlede week se 11,4-persent:
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, eis dringende regeringshervormings om leerdervervoer te beveilig. Hy het gister ‘n gesamentlike begrafnisdiens toegespreek vir drie van die slagoffers van die Vanderbijlpark-leerdervervoerongeluk in Sebokeng. Die ongeluk, wat verlede week plaasgevind het, het die lewens van 14 leerders geëis toe hul minibus met ‘n vragmotor gebots het. Lesufi sê dis die provinsiale regering se plig om alles reg te stel wat verkeerd lyk in die provinsie se skoolvervoersektor:
# Die goewerneur van Minnesota, Tim Walz, sê president Donald Trump moet sy immigrasiebeamptes uit die stad Minneapolis onttrek voordat hulle nog ‘n Amerikaner in die straat vermoor. Dit volg nadat Alex Pretti die naweek deur ‘n grenspatrollie-agent in Minneapolis doodgeskiet is. Dit is die tweede voorval die maand in die stad waar ‘n persoon aan die hand van federale beamptes dood is. Die 37-jarige was ‘n waakeenheidverpleër by ‘n plaaslike hospitaal vir veterane. Walz sê Minnesota glo in wet, orde en vrede.
# Krieket: Suid-Afrika is uit die halfeindronde van die Onder-19-Wêreldbekertoernooi nadat hulle ‘n verpletterende nederlaag met ses paaltjies teen die heersende kampioene, Australië, in Windhoek gely het. Die jong Proteas is vir 118 uitgeboul, met Charles Lachmund wat drie paaltjies geneem het. In antwoord het JJ Basson drie paaltjies geneem. Aanvangskolwer Steven Hogan het egter die meeste lopies aangeteken met 43 van 73 balle terwyl Australië die totaal binne 33 boulbeurte bereik het. Suid-Afrika sal Donderdag teen Sri Lanka in hul laaste Super Ses-wedstryd te staan kom, voordat hulle hul toernooi met ‘n plasingwedstryd afsluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-292-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-21-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….