Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa sê die ANC is van plan om plaaslike regeringsleiers wat onderpresteer te vervang om die publiek se vertroue terug te wen. Hy sê aanstellings moet volgens die prestasie van kandidate gedoen word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook oor Ramaphosa se toespraak by die lekgotla van die ANC se NUK. Hy sê inmenging in tenders is een van die vernaamste redes vir swak dienslewering. Hy sê plaaslike regeringsbestuur moet geïsoleer word van politieke inmenging. Ramaphosa het ook erken daar wag ‘n opdraande stryd vir die ANC in die verkiesing.
Dan skryf die webblad Ramaphosa sê indien diegene wat die ANC in plaaslike bestuur ontplooi het nie presteer nie, moet hulle dadelik onttrek word.
En laastens word berig die NSRI is steeds op soek na ‘n 16-jarige seun wat die naweek deur seestrome by Oos-Londen meegesleur is. Sy 14-jarige vriend is gered.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die minister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, sê daar kan nooit aan kinders as vrag gedink word nie. Sy het gepraat by die gedenkdiens vir twee van die slagoffers van die Vanderbijlpark-ongeluk wat by die Saul Tsotetsi-sportsentrum in Sebokeng gehou is.
En tweedens word berig die bestuurder van die ongelukstaxi, die 22-jarige Ayanda Dludla, word deur die gemeenskap verwerp.
# Sowetan:
Berig oor ‘n laerskoolgebou wat deur zama-zama’s oorgeneem is en die gemeenskap se stryd om die skool terug te kry. Die skoolhoof se kantoor is nou ‘n taverne en die klaskamers woonplekke.
# En The Citizen:
Berig vakbonde sê daar is een-duisend-200 dokters wat hul gemeenskapsjaar voltooi het en steeds sonder werk sit omdat die regering traag is om ‘n begroting van 21-miljard-rand aan te wend om vir hulle werk te skep by staatshospitale. Dit verswak die hele gesondheidstelsel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens opposisiepartye het die regering veroordeel omdat hy tydens ‘n spesiale VN-sitting oor die geweld in Iran buite stemming gebly het. Die regering is gekritiseer vir sy inkonsekwente optrede oor menseregte om Israel te vervolg maar stil te bly oor Iran.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n luiperd wat aan ‘n kragpaal in die Worcester-omgewing gevind is. Dis die sesde dier wat die afgelope 12 maande dood is. Slegs in twee gevalle is die diere so doodgeskok.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is reusesteun vir die Dierebeskermingsvereniging nadat die Kariega-tak oornag die trekpas gekry het.
En skryf groot dele van Gqeberha sit steeds sonder krag en water nadat twee kragpale ineengestort het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Ramaphosa het dit duidelik gemaak dat daar geen plek in plaaslike bestuur is vir middelmatige burgemeesters nie.
En tweedens word ook berig oor die gedenkdiens vir die slagoffers van die Vanderbijlpark-ongeluk.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig staatsinstellings moet plaaslike meubels aankoop om die Namibiese bedryf te ondersteun. Daar mag slegs ingevoer word indien plaaslike produkte nie beskikbaar is nie.
Dan skryf die koerant Print Media Hub wat voorheen bekend was as Newsprint is na ‘n algehele opgradering by Diamond Square hervestig.
En laastens is daar nuus oor ‘n laerskool wat sy deure moes sluit nadat ‘n swerm perdebye by die skool ingetrek het.