Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oudpresident Jacob Zuma en die MK-party het vir ‘n derde keer misluk om president Cyril Ramaphosa se besluite oor die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu en die Madlanga-kommissie om te keer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat is ampler klaar met hul ondersoek na die moord op Emmanuel Mbense waaroor die vermoorde fluitjieblaser Marius van der Mewer voor die Madlanga-kommissie getuig het.
Dan skryf die webblad ‘n verdagte is vasgetrek vir die moord op Karin van Aardt wat op pad van die Kaapstad Internasionale Lughawe in ‘n onveilige gebied beland het.
En laastens word berig die kampioenswemmer Chad le Clos gaan die Midmar-myl vir liefdadigheid swem.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf oor die familie van ‘n vermoorde man van Brakpan wat nou die Privaat Vervolgingseenheid van AfriForum ingeroep het om te help met die ondersoek. Emmanuel Mbense waaroor daar voor die Madlanga-komissie getuig is, is na bewering in 2022 gemartel en vermoor.
# Sowetan:
Berig dit het in die hof aan die lig gekom die leier van die International Pentecostal Holiness Church, Mike Sandlana is skynbaar op 29 Februarie 1969 gebore. Die datum bestaan nie want dit was nie ‘n skrikkeljaar nie.
# En The Citizen:
Skryf soos Netwerk24 ook oor die OPOD-ondersoek, maar vra of die vertraging in die ondersoek nie na Van der Merwe se dood gelei het nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor ‘n majoor van die Lugmag wat in 2018 weens ernstige haatspraak afgedank is, en minder as ʼn jaar later heraangestel is. ʼn Ondersoek het majoor Vincent Mohlala skuldig bevind na ʼn inskrywing op sosiale media wat hy ná die moord op professor Cobus Naudé gemaak het. Hy is in 2019 heraangestel.
Dan skryf die koerant ook oor die moord op Karin van Aardt.
En laastens is daar nuus oor ‘n man van Zimbabwe wat in Mpumalanga in hegtenis geneem is met 582 paspoorte en 20-duisend-rand kontant in sy besit,
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Kou-Kama-raad het die speaker van die ANC-koalisie, Dudley Maasdorp in ‘n mosie van wantroue uitgestem nadat hy ‘n vuurwapen op ‘n lid van publiek gerig het.
En tweedens skryf die koerant ses pensioenarisse van Nelson Mandelabaai het welkome verligting ontvang nadat hul munisipale verpligtinge vir ses maande opgeskort is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die ANC se pogings om sy steun in KwaZulu-Natal terug te wen en berig oor die Diwali-fees wat op die Unesco-lys geplaas is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig NamWater en Swakop Uranium gaan die nuwe Erongo Sunam-ontsoutingsaanleg ter waarde van sowat drie-miljard-rand in die Erongostreek ontwikkel.
Dan skryf die koerant elektronika en klere wat hoofsaaklik uit China deur Namibiese handelaars ingevoer word, het vanjaar die verklaarde goedere by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe oorheers.
En laastens word berig die Nasionale Erfenisraad van Namibië stel voor dat ‘n verdere radius van 10-kilometer rondom die Brandberg as ‘n bewaringsgebied omskep word.