Nuus 06:00
BULLETIN 11 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Basiese Onderwys het op ‘n matriekeksamenoortreding afgekom tydens die nasienproses
# Die DA waarsku oor die stygende sterftes onder kinders weens wanvoeding
# En rugby: Die Stormers kry ‘n Bok-hupstoot vir hul Kampioenebeker-wedstryd teen La Rochelle
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het bevestig dat ‘n oortreding geïdentifiseer is tydens die nasienproses van die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Die oortreding het aan die lig gekom deur die departement se interne moniterings- en toesigstelsels. Die departement sê minister Gwarube sal vandag ‘n dringende media-inligtingsessie in Kaapstad hou. Sy sal die onmiddellike optrede en die maatreëls wat toegepas word om die integriteit en geloofwaardigheid van die eksamenuitslae te beskerm, uiteensit.
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die 2025 Globale Geslagsgaping-verslag plaas Suid-Afrika in die eerste posisie vir vroue-inskrywings op alle vlakke van onderwys. Mbalula voer aan die ranglys weerspieël ANC-beleide wat toegang tot onderwys uitgebrei en hindernisse uit die apartheidsera verwyder het. Hy voeg by hierdie uitkomste toon werklike vordering deur data gerugsteun:
# Die DA sê dringende optrede is nodig met kinderwanvoeding wat steeds honderde lewens in Suid-Afrika eis. Parlementêre syfers toon tussen Mei en September vanjaar het meer as 300 kinders onder vyf jaar in openbare hospitale aan matige en ernstige wanvoeding gesterf. Michele Clarke van die DA sê wanvoeding is voorkombaar en behandelbaar:
# Die Privaat Vervolgingseenheid van Afriforum sê die familie van Emmanuel Mbense, wat na bewering in 2022 in Brakpan, Gauteng, gemartel en vermoor is, soek geregtigheid. Die eenheid voer aan dat vertragings en moontlike toesmeerdery vertroue in die strafregstelsel ondermyn het. Mbense se broer, Nhlanhla, sê getuienis voor die Madlanga-kommissie het aan die lig gebring dat wetstoepassers betrokke was, en sy liggaam is in ‘n dam gegooi:
# ‘n Federale regter in New York het die Departement van Justisie se versoek toegestaan om die dokumente vry te stel van die groot jurie van die 2019 federale ondersoek na die veroordeelde seksoortreder, wyle Jeffrey Epstein. Regter Richard Berman, wat ‘n vorige versoek van die departement van die hand gewys het, sê sy jongste uitspraak is gebaseer op die Epstein-lêers-deursigtigheidswet, wat president Donald Trump verlede maand onderteken het. Die wet vereis dat die departement teen 19 Desember Epstein se ondersoekmateriaal vrystel, insluitend ongeklassifiseerde rekords, dokumente en kommunikasie.
Rugby: Die hoofafrigter van die Stormers, John Dobson, het nege Springbokke in sy beginspan ingesluit vir Saterdag se Kampioenebeker-ontmoeting teen La Rochelle by die Nelson Mandelabaai-stadion. Warrick Gelant, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Cobus Reinach, Evan Roos en André-Hugo Venter is almal in die span. Die plaasvervangers sluit in, haker JJ Kotzé, slot Connor Evans, losvoorspeler Ruan Ackermann, skrumskakel Imad Khan en die veelsydige agterspeler Wandisile Simelane. Dobson sê sy span wil voortbou op hul bemoedigende vertoning in Frankryk verlede week toe hulle Bayonne met 26-17 geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-289-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-226-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….