Nuus 09:00
BULLETIN 20 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwerp Netanyahu se onlangse uitlatings
# Suid-Afrika hoop om vertroue by beleggers by die Wêreld Ekonomiese Forum te wek
# En, krieket: M-I Cape Town kry die oorhand oor Paarl Royals in die SA20
# Die DA het die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, se teenkanting teen die vestiging van ‘n Palestynse staat as deel van ‘n na-oorlogse oplossing, verwerp. Netanyahu het Donderdag in ‘n regstreekse toespraak aangevoer Israel moet veiligheidsbeheer oor alle gebiede wes van die Jordaanrivier behou en erken dit bots met die idee van soewereiniteit. Emma Louise Powell van die DA sê die party het deurgaans in die tragiese oorlog gehou by sy verbintenis tot ‘n twee-staat-oplossing wat sal uitloop op ‘n soewereinde en onbesette Palestina, wat in vrede met ‘n veilige Israel langsaan bestaan.
Die Palestynse Departement van Buitelandse Sake het intussen Chile en Mexiko se versoek verwelkom vir die Internasionale Strafhof om misdade teen burgerlikes in die oorlog tussen Israel en Gaza te ondersoek. Israeliese aanvalle het geweldige skade in die Gaza-strook veroorsaak sedert Hamas-vegters op 7 Oktober verlede jaar ‘n dodelike verrassingsaanval in Israel geloods het. Chile en Mexiko sê die Strafhof in Den Haag is die regte forum om die moontlikheid van aanspreeklikheid vir misdade te bepaal. Hulle haal verskeie verslae van die Verenigde Nasies aan van voorvalle wat ingevolge die hof se jurisdiksie as misdade beskou kan word.
# Brand South Africa hoop om vertroue by beleggers by die Wêreld Ekonomiese Forum in te boesem en hul ingesteldheid van onsekerheid na vertroue te verskuif. Die wêreldleierskonferensie in Davos, Switserland, is gister afgesluit. Brand SA se waarnemende uitvoerende hoof, Sithembile Ntombela, beklemtoon deursigtigheid was bo-aan die agenda tydens die onderhandelings. Sy sê Suid-Afrika het gepoog om erkenning van uitdagings oor te dra en beleggers te verseker van ingrypings om dit teen te werk:
# Krieket: Ryan Rickelton se onoorwonne 94 het M-I Cape Town tot ‘n oortuigende agt-paaltjie-oorwinning teen die Paarl Royals in die SA20 op Nuweland in Kaapstad gelei. Die Royals is tot 172 vir agt in hulle 20 boulbeurte beperk. Rickelton se openingsalvo van 81 saam met Rassie van der Dussen het die toon in M-I Cape Town se beurt aangegee, wat op 175 vir twee geëindig het. Die Royals kon in drie pogings nog nie daarin slaag om M-I te klop nie. Hulle sal môremiddag in die Paarl in die tweede ontmoeting tussen die twee spanne weer ‘n kans kry.
# En laastens, sokker: Die verdedigende kampioene Senegal het Kameroen met 3-1 by die Afrikabekertoernooi in die Ivoorkus geklop om hulle plek in die laaste 16 te verseker. Met slegs een punt na twee wedstryde sal die Indomitable Lions alles in die stryd moet werp in hulle finale groepwedstryd teen Gambië. In ‘n vroeëre wedstryd het die voormalige Manchester United voorspeler, Bebe, met ‘n langafstand-vryskop geslaag om Kaap Verde te help tot ‘n oorwinning van 3-0 teen Mosambiek. Die sege beteken Kaap Verde is nou boaan die punteleer in Groep B, voor die voormalige kampioene Egipte en Ghana.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….