Nuus 11:00
BULLETIN 15 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die betrokkenheid met Amazon SA het vertroue in die land se beleggingsomgewing versterk
# Die polisiekommissaris stel ‘n span aan om die moord op March and March se Gautengse leier te ondersoek
# En rugby: Die Springbok-hulpafrigter is versigtig vir ‘n desperate Wallis
# President Cyril Ramaphosa sê vennootskappe met beleggers in tegnologie en vernuwing stel die regering in staat om digitale infrastruktuur te versterk, vaardighede vir die toekoms te ontwikkel en entrepreneurskap te ondersteun. Hy het gister die uitvoerende span van Amazon Suid-Afrika ontmoet, insluitend sy senior visepresident, David Zapolsky. Amazon het die afgelope tien jaar meer as 54-miljard-rand in die land belê, wat wolkinfrastruktuur, e-handel, logistiek, hernubare energie en vaardigheidsontwikkeling insluit. Ramaphosa sê die vennootskap het vertroue in die land se beleggingsomgewing en langtermyn ekonomiese moontlikhede versterk.
# Die EFF sê die parlementêre ad hoc-komitee se voorlopige verslag is toesmeerdery. Geen bewyse van misdadigheid is gevind teen die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, nie, maar ernstige kommer bestaan oor sy bestuursvermoë en integriteit. Daar is blykbaar ook geen bewys van misdadige optrede teen die geskorste adjunk-polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, en die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, nie. EFF-woordvoerder Leigh-Ann Mathys sê die bewoording moet verstaanbaar wees:
# Die waarnemende polisiekommissaris, Puleng Dimpane, het ʼn multidissiplinêre span aangestel om die moord op March and March se Gautengse leier, Andile Somgaxa, te ondersoek. Hy is vroeër die maand by sy huis in Greenfield, Johannesburg, geskiet. March and March het op 30 Junie landwyd massabetogings teen onwettige immigrante gelei. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die span bestaan uit ervare speurders en intelligensie-amptenare:
Nuus uit die buiteland
# Oekraïne het in Junie die hoogste maandelikse aantal burgerlike ongevalle sedert April 2022 gesien. Volgens die Verenigde Nasies se Moniteringsending vir Menseregte in Oekraïne is minstens 293 burgerlikes verlede maand dood en een-duisend-990 beseer, wat die aantal burgerlike sterftes vir die jaar tot dusver op byna een-duisend-400 te staan bring. Die ongevalle is 37-persent hoër as in Junie verlede jaar. Die VN sê burgerlike ongevalle weens langafstandwapens het van Januarie tot Junie met 60-persent toegeneem vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, waarsku dat Wallis Saterdag gevaarlik kan wees juis omdat hulle heel laaste op die Nasieskampioenskaps-ranglys is. Suid-Afrika mik na ‘n derde oorwinning in die kompetisie nadat hulle reeds met Engeland en Skotland afgereken het. Wallis het vir Fidji geklop, maar teen Argentinië verloor. Suid-Afrika het Wallis in November verlede jaar sy grootste tuis-nederlaag ooit toegedien van 73-0. Davids sê Wallis is nogtans ʼn baie mededingende span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-729-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-29-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….