Nuus 09:00
BULLETIN 24 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê Suid-Afrika en China is daartoe verbind om diplomatieke bande te verstewig
# Die MK-party verwerp die G20-leiersverklaring
# En tennis: Italië klop Spanje om ‘n geskiedkundige derde agtereenvolgende Davisbeker-titel te verower
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê daar is ‘n geleentheid om Suid-Afrika se strategiese doelwitte in handel, belegging, industrialisering, multilaterale samewerking en bestuur te bevorder en terselfdertyd politieke en diplomatieke bande met China te versterk. Hy het gister in Johannesburg met China se eerste minister, Li Qiang, vergader. Mashatile het klem gelê op Suid-Afrika se gereedheid om waardetoegevoegde uitvoere uit te brei, en groter Chinese belegging in veredeling, vervaardiging, hernubare energie en digitale sektore te lok. Li sê Beijing is gereed om saam met Suid-Afrika te werk om die multilaterale handelstelsel te beskerm.
# Die ANC sê die G20-leiersberaad het Suid-Afrika se vermoë getoon om betekenisvolle dialoog tussen die wêreld se belangrikste leiers en ekonomieë te lei, byeen te roep en te fasiliteer. Die beraad, wat gister in Johannesburg afgesluit het, is vir die eerste keer op Afrika-bodem gehou. Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê hulle verwelkom die aanneming van die Leiersverklaring, wat ‘n verenigde wêreldwye verbintenis weerspieël om die internasionale finansiële argitektuur te transformeer, ‘n regverdige energie-oorgang te bevorder en waardekettings tussen vastelande te versterk:
Die MK-party het intussen die aanvaarde G20-leiersverklaring verwerp en sê die dokument verteenwoordig ‘n voortsetting van globale magswanbalanse en die sistematiese erosie van Afrika-soewereiniteit. Die 30-bladsy verklaring fokus sterk op ontwikkelingskwessies in Afrika, insluitend die bevordering van ekonomiese groei en handel. Die MK-party sê die verklaring is opgestel vir die verskansing van wêreldwye oorheersing, met primêre belang in die beheer oor Afrika-minerale, die vorming van Afrika se fiskale stelsels en die voorskryf van energie-oorgange. Hy sê die dokument is vol beloftes, maar arm aan geregtigheid.
# President Cyril Ramaphosa woon vandag en môre die 7de AU-EU-beraad in Luanda, Angola, by, waar Afrika- en Europese leiers hul 25-jaar lange vennootskap sal herbevestig. Die byeenkoms vind plaas te midde van globale onbestendigheid en fokus op gesamentlike prioriteite onder Agenda 2063 en die AU-EU Visie 2030. Dit sluit in vrede, handel, klimaatsveerkragtigheid en digitale transformasie. Die beraad volg na onlangse ministeriële vergaderings wat beleidsaanbevelings vir albei vastelande bepaal het. Die vergadering volg na die volvoering van Suid-Afrika se G20-presidentskap.
# Tennis: Italië het sy geskiedkundige derde agtereenvolgende Davisbeker-titel opgeraap nadat hy Spanje voor hul tuisskare in Bologna verslaan het. Die 2021-Wimbledon-finalis, Matteo Berrettini, het 13 kishoue gemoker om Pablo Carreno Busta in die openingswedstryd met 6-3, 6-4 te klop. Flavio Cobolli moes alles uithaal om Jaume Munar te verslaan en Italië se sukses te verseker. Cobolli sê dis ʼn spesiale oomblik in sy loopbaan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-368-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-54-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….