Nuus 14:00
BULLETIN 21 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder waarsku spanning tussen Suid-Afrika en Amerika kan belangrike handelsgesprekke beïnvloed
# ‘n Tweede verdagte word aangekeer na ‘n dubbele moord by ‘n laerskool in Gauteng
# En krieket: Altesaam 19 paaltjies val op die eerste dag van die reeks om die As
# Handelsbetrekkinge tussen Suid-Afrika en Amerika kan ernstig beïnvloed word namate die oorhandiging van die G20-presidentskap aan Amerika in die weegskaal hang. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het aangekondig hy sal ‘n junior ambassade-verteenwoordiger stuur om die presidentskap te ontvang, maar president Cyril Ramaphosa verwerp hierdie plan. ‘n Ontleder aan die Universiteit van Johannesburg, Oscar van Heerden, het teenoor SABC News gewaarsku groot kwessies hang in die weegskaal, insluitend die tariefverhoging van 30 persent:
Intussen het die Britse eerste minister, Keir Starmer, sy besluit verdedig om die naweek die G20-leiersberaad in Johannesburg by te woon en sê die geleentheid is ‘n belangrike forum vir sy land. Hy is gekritiseer oor die aantal internasionale reise wat hy onderneem. Die een na Suid-Afrika is die 45ste sedert hy aan bewind gekom het. Starmer sê die internasionale kwessies wat op die beraad bespreek sal word, het ʼn uitwerking op sy land en die G20-nasies is belangrik vir Brittanje se ekonomie.
# Die ANC-Jeugliga het sy president, Collen Malatji, geskors ná vroeëre berigte oor spanning tussen hom en die sekretaris-generaal, Mntuwoxolo Ngundle. Ngundle het aan die liga se strukture gesê die skorsing spruit uit bewerings dat Malatji eensydig ‘n parallelle vergadering byeengeroep en strukture mislei het oor sy rol as president. Dit is ook vanoggend op Instagram geplaas. Die parallelle vergadering het na bewering Ngundle en die Tesourie-generaal Zwelo Masilela uitgesluit van voorbereidings vir die 27ste nasionale kongres wat volgende maand in Limpopo gehou word.
# ‘n Tweede verdagtes is aangekeer in verband met dié week se dubbele moord by die Inxiweni Primary School in Tembisa, Gauteng. Die hoof en ‘n administratiewe personeelled is in die administrasiegebou doodgeskiet. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê die eerste verdagte, ‘n 26-jarige werknemer van die skool, is vroeër aangekeer:
# Krieket: Die eerste dag van die eerste toets om die As in Perth het geëindig met Australië op 123 vir nege paaltjies, waarvan Engeland se kaptein, Ben Stokes, vyf geneem het. Die besoekers het opgemaak vir ‘n gemiddelde kolfvertoning nadat Stokes die loot gewen en gaan kolf het. Die span is uitgeboul vir net 172 nadat Mitchell Starc die beste boulvertoning van sy loopbaan gelewer het met sewe vir 58. Nathan Lyon en Brendan Doggett sal môre die gasheer se eerste beurt hervat met net een paaltjie staande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-180-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-36-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….