Nuus 13:00
BULLETIN 21 november 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Britse eerste minister Keir Starmer verdedig sy besluit om die G20-leiersberaad by te woon
# Amerika herroep oudminister Naledi Pandor se visum
# En rugby: Erasmus is gretig om Nienaber in 2027 terug te kry in sy afrigtingspan
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het sy besluit verdedig om die naweek die G20-leiersberaad in Suid-Afrika by te woon en sê die geleentheid is ‘n belangrike forum vir sy land. Hy is gekritiseer oor die aantal internasionale reise wat hy onderneem. Die een na Suid-Afrika is die 45ste sedert hy aan bewind gekom het. Starmer sê die internasionale kwessies wat op die beraad bespreek sal word, het ʼn uitwerking op sy land en die G20-nasies is belangrik vir Brittanje se ekonomie.
# Die Amerikaanse Department van Buitelandse Sake het die voormalige minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, se visum herroep. Sy is ‘n meervoudige besoekersvisum vir korttermynverblyf in Amerika toegestaan nadat sy verlede jaar uit die politiek getree het. Pandor is tans die voorsitter van die Nelson Mandela-stigting en sê sy is hierdie week in ‘n e-pos deur die Amerikaanse Konsulaat in kennis gestel oor die besluit, sonder dat redes verskaf is. Pandor se mees onlangse besoek aan Amerika was in hierdie week.
# Die GOOD-party sê hy veroordeel ten sterkste die munisipaliteit van George se jongste poging om voor te gee wetgewing en interne ondersoeke gaan nou hersien word. Dit volg op die noodlottige instorting van ‘n gebou in Mei verlede jaar waarin 34 mense dood is. Chantelle Kyd van GOOD sê die munisipaliteit het opsetlik gedraai met die oorsig al het hy geweet dringende optrede is nodig om die publiek te beskerm:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy is gretig om Jacques Nienaber terug te kry in sy afrigtingspan voor 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië. Die 53-jarige Nienaber, wat die Bokke in 2019 en ’23 die beker help verower het, is tans Leinster se breier. Sy kontrak eindig na die 2026/27-klubseisoen. Erasmus erken ander lande soos Ierland en Engeland kan ook belangstel in Nienaber se vaardighede:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-227-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-55-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-8-sent per vat.
# En ter afsluiting: Mej Mexiko, Fatima Bosch, is in Thailand tot Mej Heelal gekroon aan die einde van ‘n kompetisie vol skandale. Die 25-jarige het vroeër die maand uit ‘n geleentheid gestap toe ‘n amptenaar haar in die openbaar verneder en gedreig het om diegene te diskwalifiseer wat haar steun. Twee beoordelaars het ‘n week later bedank en een van hulle het die organiseerders beskuldig van knoeiery. Praveenar Singh van Thailand is eerste prinses en die deelnemers van Venezuela, die Filippyne en Ivoorkus maak die res van die top-vyf uit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….