Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 November 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die misdaadintelligensiehoof, luitenant-generaal Dumisani Khumalo, het voor die Madlanga-kommissie getuig dat die helfte van die provinsies nie ‘n misdaadintelligensiehoof het nie. Hy sê die spanning tussen hom en die nasionale adjunkkommissaris vir misdaadopsporing, luitenant-generaal Shadrack Sibiya, is moontlik die rede hiervoor.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die moordenaar van Marike de Klerk het ontken dat hy haar om politieke redes vermoor het. Luyanda Mboniswa het in ‘n TV-onderhoud gesê hy wou die goed wat uit sy huis in Khayelitsha gesteel is, vervang en De Klerk het hom verras.

Dan skryf die webblad vier ANC-lede in die Wes-Kaap het uit die ANC bedank om by die DA aan te sluit. Hulle is die Wes-Kaapse sekretaris, Neville Delport, die streeksuitvoerende lid, Jason Donn en wyksraadslede Daniel Baadjies van Bonnievale en Paul Strauss van die Cederberg-munisipaliteit. Die DA sê dit dui op die verdere verbrokkeling van die ANC.

En ten slotte word berig president Donald Trump sê Suid-Afrika moenie deel van die G20 wees nie.

GAUTENG:

# Sowetan:

Berig ‘n ma van Soweto, Phumla Gudubela, sê haar kind is nege dae na geboorte dood nadat sy op haar kop geval het tydens die bevalling. Gudubela sê die verpleegpersoneel by die kliniek het haar opdrag gegee om op te staan en te loop toe die baba geval het.

# En The Citizen:

Skryf indien Harith Partners daarin slaag om die beherende aandeel in FlySafair te verkry, besit die staat 76-persent van plaaslike lugvaart. Die koerant skryf dit kan politieke inmenging tot gevolg hê.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die Wes-Kaapse ANC-lede wat oorgeloop het na die DA.

En tweedens skryf die koerant die Wes-Kaapse veeartsenydienste ondersoek die moontlikheid van ‘n uitbreking van bek-en-klouseer in die Gouda-omgewing.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die president van die Kongres van Tradisionele Leiers van Suid-Afrika, Kgosi Mathupa Mokoena, het ontken dat hy ‘n moratorium van twee jaar gevra het op inisiasieskole in die Oos-Kaap om aanhoudende uitdagings aan te spreek.

En tweedens skryf die koerant die meeste voorvalle van geslagsgeweld in die Oos-Kaap kom in Oos-Londen voor.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf meer as ‘n miljard-rand in beleggingsbeloftes is opsy gesit vir infrastruktuurontwikkelingsprojekte vir die Msunduzi-munisipaliteit. Indien die beloftes tydens die onlangse KwaZulu-Natal Beleggingskonferensie realiseer, sal die landskap van die KwaZulu-Natal Middellande ‘n groot transformasie ondergaan met twee-duisend werksgeleenthede wat geskep word.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig koshuisleerders in die noorde van Namibië oorleef op ’n skrale 22-rand per leerder per dag vir maaltye en verwante behoeftes. Die staande komitee het die ministerie versoek om dringend ondersoek in te stel.

Dan skryf die koerant ‘n menseregte-prokureur sê dis skokkend dat jongmense wat in vryheid gebore is, so iets kan doen. Hy het verwys na die sogenaamde Blackface-voorval waarby twee leerders betrek word.

En laastens is daar nuus oor Senior Park in Windhoek waar die lekkende dakke nou herstel is.