Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Tesourie het die voorstel teruggetrek om buitelandse aftree-inkomste te belas. Die koerant skryf die voorstel veroorsaak die risiko om geskoolde buitelandse burgers en beleggers te ontmoedig om in Suid-Afrika af te tree.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die helde-ontvangs vir die Protea-vroue met hul aankoms by die OR Tambo-lughawe. Die span het die silwerbeker in die Wêreldbeker-kriekettoernooi vir vroue gewen.
Dan skryf die webblad die hoof van misdaadintelligensie, luitenant-generaal luitenant-generaal Dumisani Khumalo het voor die Madlanga-kommissie getuig hoe misdaadsindikate polisiebeamptes vir huurmoorde werf.
En laastens word berig die hof het ter plaatse ondersoek ingestel in die sogenaamde varkhok-moordsaak. Besoek is gebring aan die hoewe Onverwacht, tien-kilometer van Polokwane op die R-81.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Hooggeregshof in Johannesburg het die drukgroep en politieke party Operasie Dudula verbied om openbare verklarings te maak wat haatspraak op grond van nasionaliteit of etnisiteit bevorder.
En tweedens word berig nadat 11 koeëls die omstrede sakeman Brown Mogotsi se motor getref het, is daar talle vrae oor waar hy was tydens die voorval
# Sowetan:
Berig ook oor Brown Mogotsi. Hy het volgens ooggetuies na bewering self die skote op sy voertuig afgevuur en daarna beweer hy het ‘n sluipmoord ontkom.
# En The Citizen:
Lei met: “COMRADES ENTRY CHAOS”. Die koerant skryf duisende atlete landswyd was gister teleurgesteld nadat die inskrywings vir die Comrades-marathon 2026 na slegs tien ure gesluit het. Die organiseerders sê nie meer as 22-duisend deelnemers sal toegelaat word nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met Dumisani Khumalo se getuienis voor die Madlanga-kommissie. Daar word berig hy het gesê misdaadsindikate vorm bande met hooggeplaastes in die polisie om so beskerming teen vervolging te verseker.
Tweedens skryf die koerant ‘n man van Ruyterwacht is in hegtenis geneem nadat hy baba-katjies doodgeslaan het wat hy nie verkoop kon kry nie.
En laastens is daar nuus oor ‘n reuse-rotsluislang wat hom agter ‘n koffiemasjien in ‘n restaurant in die Krugerwildtuin tuisgemaak het.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die hof het ‘n man van Willowvale 250-duisend-rand toegestaan nadat sy eis teen die polisie vir onregmatige arrestasie geslaag het.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n transitorooftog op die N6 naby Ducats, net buite Oos-Londen op pad na Komani. Die kontantwa is opgeblaas en geplunder.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Umsunduzi-metro het begin met daadwerklike optrede teen diegene wat dienste steel.
En tweedens word berig die voorsitter van die NSFAS-raad, doktor Karen Stander, het weens toksiese werksomstandighede bedank.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig voordat president Netumbo Nandi-Ndaitwah nuwe taakmagte aanstel om belangrike ekonomiese uitdagings aan te pak, moet daar duidelike evaluering wees van wat in die verlede verkeerd geloop het.