Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 November 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die staande komitee oor Openbare Rekeninge het eenparig besluit om die voormalige uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo te dagvaar na herhaalde pogings om sy vrywillige verskyning voor die komitee teen die einde van November 2025 te verseker. Hy moet getuig oor die ineenstorting van die fonds.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig Indië het die Protea-vrouekrieketspan se harte gebreek en die Wêreldbeker voor hulle weggeraap. Selfs Laura Wolfaardt se skitterende boulbeurt kon nie die span help nie. Indië het Suid-Afrika met 52 lopies geklop.

En tweedens berig die webblad oudpresident Thabo Mbeki het tydens ‘n veterane-saamtrek in die Oos-Kaap gewaarsku faksiegevegte in die ANC het ‘n siekte in die provinsie geword. Hy sê dit word gedryf deur mag en gierigheid.

GAUTENG:

# Sowetan:

Berig giftige gasse wat ontstaan as gevolg van brande in die onwettige Kya Sands-stortingsterrein hou ‘n ernstige gevaar vir inwoners in.

# En The Citizen:

Skryf die ANC-staatmaker, Matthews Phosa het president Cyril Ramaphosa se gebrek aan optrede bevraagteken met die ontbinding van die polisie se taakspan vir politieke moorde.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook met die Protea-vroue se nederlaag.

En tweedens skryf die koerant daar was ‘n groot verkeersontwrigting met motors wat tot 30-kilometer opgedam het, toe twee vragmotors reg van voor in die Kaaimanspas buite George gebots het. Die polisie ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ook faksiegevegte is besig om die ANC in Nelson Mandelabaai uit mekaar te ruk en Mbeki het gewaarsku vernuwing is noodsaaklik vir die party.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die National Freedom Party het ‘n ultimatum gestel, waarin groot veranderinge aan die KwaZulu-Natal Provinsiale Uitvoerende Raad geëis word as ‘n voorwaarde vir sy voortgesette deelname aan die regering van provinsiale eenheid.

En tweedens word berig KwaZulu-Natal is verheug oor beskikbaarheid van die nuwe MIV-inspuiting, Lenacapavir, in die provinsie.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig president Netumbo Nandi-Ndaitwah het beklemtoon dat slegs voltydse studente by geakkrediteerde instellings vir gratis tersiêre onderwys in 2026 in aanmerking sal kom.

En tweedens skryf die koerant regter Orben Sibeya se uitspraak in 2023 dat Namibië se onafhanklikwording die Baster Vaderlike Wette nietig verklaar het, word betwis.