Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Oktober 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die voormalige bestuurshoof van Eskom, Tshediso Matona het breëbasis swart ekonomiese bemagtiging tydens ‘n spitsberaad verdedig en die belangrikheid daarvan vir ekonomiese groei en die herstel van die waardigheid van swart mense beklemtoon.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die VN se spesiale rapporteur oor Palestynse gebiede, Francesca Albanese het die voortbestaan van die Internasionale Strafhof bevraagteken. Sy sê verskeie state steur hulle nie meer aan enige beslissings van die hof soos om Benjamin Netanyahu te arresteer nie.

Dan skryf die webblad oor die heldhaftige Protea-vroue wat vir hulle ‘n plek in die Wêreldbeker-eindstryd oopgeveg het.

En laastens word berig die Vrystaat het ‘n week van storms beleef met neerslae van tot 100-mm op sommige plekke.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf politieke gevolge word verwag as die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, deur ‘n mosie van wantroue uit sy amp verwyder word. Kenners meen die stap kan verder uitkring as net die stadsraad en die bestendigheid van Suid-Afrika se regering van nasionale eenheid bedreig.

# Sowetan:

Berig ‘n Metodistekerk in Sandton is ‘n dag nadat hy ‘n fondsinsameling gehou het deur 12 rowers oorval wat toegerus was om kluise oop te maak. Die kerk doen nou ‘n beroep op sy lidmate om alle skenkings elektronies te doen.

# En The Citizen:

Skryf die spanning neem toe in van die grootste metro’s waar mosies van wantroue voorberei word en in Ekurhuleni bewerings gemaak word oor vals aanstellings.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula sê daar was ‘n reuse-herskikking van die party se leierskap in die Wes-Kaap. Mbalula het na ‘n vergadering met die Provinsiale Uitvoerende Komitee aangekondig dat die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in die Verenigde State, Ebrahim Rasool, ‘n nuutgestigte Provinsiale Taakspan sal lei.

En tweedens skryf die koerant die Welkom Rovers is van hul beursies en selfone beroof terwyl hulle Saterdag in ‘n krieketklubwedstryd teen die polisie in Bloemfontein gespeel het.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die Oos-Kaap gaan begin met formele opleiding vir tradisonele chirurge en verpleegpersoneel.

En tweedens skryf die koerant die personeel van die Buffalo City-metro gaan voortaan ‘n sogenaamde ontberingstoelaag ontvang.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Umsunduzi-disriksmunisipaliteit het gewaarsku dat hy beplan om ‘n operasie teen onwettige drankverkope in Pietermaritzburg van stapel te stuur.

En tweedens word berig die publiek is gewaarsku dat dit paringseisoen vir kobras is en dat die slange nou meer aktief en gevaarlik is.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Namibië se padinfrastruktuur gaan onder ’n groeiende finansiële krisis gebuk, met die Padfondsadministrasie wat ’n tekort van 4,5-miljard-rand aangemeld het.

Dan skryf die koerant die appèlverhoor om die Baster-kapteinskapverkiesing van 2021 te betwis, begin vandag in die Hooggeregshof in Windhoek.

En laastens is daar nuus oor Troy, die Belgiese malinois en opgeleide spoorsnyhond wat sy regtervoorbeen ná ’n skietvoorval verloor het. Troy is nou ’n stadsjapie.