Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Oktober 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig hoër belastinginvordering is goeie nuus vir November se mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring nadat twee-pot-aftree-onttrekkings die belastinginkomste met ses-miljard-rand verhoog het. Die Inkomstediens se skatting op belastingkoste staan tans op ‘n styging van 18-miljard-rand.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die Nada-Jane-moordsaak. ‘n Maatskaplike werker het getuig die moord op die vierjarige meisie was ‘n wraakmoord teen Amber Lee Hughes se voormalige lewensmaat en Nada-Jane se pa, Elie Challita.
Tweedens skryf die webblad die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Helen Zille, sê die 2026-verkiesing is die stad se laaste kans. Sy sê sy is verstom oor die vlakke van korrupsie in die metro.
En laastens word berig die Inligtingsreguleerder is bekommerd oor die feit dat matrieks se uitslae gepubliseer word in die volgorde waarin hulle in die eksamenlokaal gesit het. Die kandidate kan so geïdentifiseer word.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig ‘n onvoltooide taxistaanplek in Limpopo waarop reeds 310-miljoen-rand die afgelope 14 jaar bestee is, gaan ‘n verdere 46-miljoen-rand ontvang om dit te voltooi. Dit is die sesde kontrakteur wat die projek nou gaan oorneem.
# En The Citizen:
Skryf die Boitumelo-gemeenskap wag nou reeds ‘n dekade vir ‘n beloofde gesondheidsentrum. Daar is reeds 20-miljoen-rand aan die projek bestee en al wat daarvoor te wys is, is ‘n oop stuk grond met ‘n gat in die middel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die 43-jarige Nikki Overbeek is gisteroggend in ‘n oënskynlike huurmoord in die oprit van haar huis in Somerset-Wes doodgeskiet. Sy het glo in Desember ‘n inbraak by haar huis gehad en veiligheidskameras laat installeer. Die moord is moontlik deur die geslotebaantelevisie vasgevang. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
En tweedens skryf die koerant die geliefde Outeniqua Choo Tjoe-stoomtrein is gereed vir ‘n terugkeer in 2026 nadat Transnet Rail Infrastructure Manager ‘n 25-jaar konsessie-ooreenkoms met die Outeniqua Choo Tjoe-maatskappy onderteken het om die ikoniese erfenis-spoorlyn in die Wes-Kaap te restoureer, te bedryf en te bestuur.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die Mdantsane-gemeenskap in Oos-Londen is geskok nadat die hoof van die Ulwazi High School, Mihlali Makhalima, deur die Oos-Kaapse Departement van Onderwys geskors is na bewerings dat hy meer as een-miljoen-rand uit die skoolfonds vir persoonlike gebruik geplunder het.
En tweedens skryf die koerant drie onderwysers van die Alfred Nzo-distrik is afgedank nadat hul name in die register van seksoortreders opgeneem is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Mej. Suid-Afrika-organisasie het die publiek gewaarsku teen ‘n bedrieglike veldtog op sosiale media wat beweer dat hulle fondse insamel namens die kompetisie se eerste prinses, Luyanda Zuma. Zuma is afkomstig van Pietermaritzburg.
En tweedens word berig nagenoeg 50 Suid-Afrikaners is in Mianmar gestrand nadat hulle uit ‘n berugte mensehandelsentrum ontvlug het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die minister van Verdediging en Veteranesake, Frans Kapofi sal die portefeulje van die minister van Myne, Energie en Nywerheidsontwikkeling op ’n tussentydse basis behartig.
En tweedens skryf die koerant die voormalige Omaruru-hospitaal, eens die dorp se enigste hospitaal, staan nou vervalle – die sale is geplunder, vensters gebreek en koperpype gestroop.