Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Oktober 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig vandag soos talle ander dagblaaie oor die getuienis voor die ad hoc-komitee en Madlanga-kommissie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig skokgranate is afgevuur op betogende ouers buite die Milnerton High School nadat nog ‘n boelie-video aan die lig gekom het. Agt leerders is reeds geskors vir wat blyk ‘n herhalende voorval te wees.

Vervolgens gee die webblad ‘n detail-uiteensetting van die getuienis van die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu voor die parlementêre ad hoc-komitee.

En laastens word berig oor die varkhok-moorde waar briewe wat die staatsgetuie, Adriaan de Wet aan sy vrou uit die tronk geskryf het, in die hof voorgelees is. Hierin meld hy dat hy daarna smag om onder meer weer varktjops te eet.

GAUTENG:

# The Star:

Berig talle parlementslede van die ad hoc-komitee het hul frustrasies uitgespreek oor hoe hul ondervraging van Mchunu gister verloop het. Hulle sê dit het gevoel of hy nie ‘n eenvoudige vraag wat gestel is, kon beantwoord nie.

# Sowetan:

Berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het die misdaadvoorkomingsbewaarders onder druk ontbind. Die Openbare Beskermer het bevind hy het onwettig opgetree en Lesufi sê die Amapanyaza sal nou by ander eenhede ingesluit word.

# En The Citizen:

Skryf Johannesburg het nou Westbury as sy eie moordvoorstad gekry, vergelykbaar met die Kaapse Vlakte

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met dieselfde storie as Netwerk24 oor die boelie-video’s.

En tweedens word berig die regsfirma DSC Attorneys wat ongeluksbeseringseise hanteer, sê die groei in die aflewer-dienste het ‘n drastiese toename in motorfietsongelukke tot gevolg.

En laastens skryf die koerant die hof het beslis oudpresident Jacob Zuma moet binne 60 dae regskoste ten bedrae van 28,9-miljoen-rand betaal.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig daar is ongeloof en woede oor die miljoene rand wat bestee is aan die Wetgewer se uitreikingsprogram na die mense.

En tweedens skryf die koerant die planne vir ‘n Oos-Londense waterfront vorder goed.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf eerstens die Tatham-kunsgallery in Pietermaritzburg het op ‘n vervalsing in sy versameling afgekom.

En daar word berig die opgradering van die N3 is uit talle oorde verwelkom.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig talle mediese fondse in Namibië se voordeelstrukture sluit steeds terapie uit vir toestande soos gesinswanfunksie, afwykings weens middelmisbruik en selfdoodverwante stres.

En tweedens skryf die koerant bewerings van vermiste miljoene en vertraagde betalings aan kontrakteurs plaas die Rundu-dorpsraad se boorgatprojek in ‘n swak lig.