Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Oktober 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die gasbedryf sê die Geïntegreerde Hulpbronplan bied rigting, maar kort ‘n praktiese raamwerk om uitgevoer te word. Die bedryf is ook bekommerd oor die beskikbaarheid van die gasvoorraad in die land.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu het gister die vrae van die parlementêre ad hoc-komitee beantwoord en herhaal dat hy binne sy magte opgetree het toe hy die polisie se taakspan wat politieke moorde ondersoek ontbind het. Hy het gesê die Grondwet maak daarvoor voorsiening.
Dan skryf die webblad president Donald Trump se vlugtelingplan vir Afrikaners maak nou voorsiening vir sewe-duisend mense. Die beplanning is om ses-duisend vlugtelinge voor die einde van die jaar te verwerk.
En laastens word berig die organiseerders van die Kaapstad-marathon oorweeg om die wedloop jaarliks na Mei te verskuif wanneer wind nie so ‘n groot rol speel nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die EFF-leier Julius Malema het gister Mchunu ondervra oor waarom hy ‘n beëdigde verklaring van die poging-tot-moord-beskuldigde en tenderpreneur Vusimuzi “Cat” Matlala aanvaar het terwyl hy in die C-Max-gevangenis sit. Malema het gesê daar is bewerings oor Matlala, maar Mchunu vra steeds ‘n beëdigde verklaring van hom terwyl hy ‘n onetiese man is wat in die tronk sit.
# Sowetan:
Berig meer as een-duisend-500 onderwysers het die afglope drie jaar bedank as gevolg van gesondheidstoestande. Die Gautengse Departement van Onderwys sê 60 onderwysers het bedank weens geestelike gesondheidsredes wat hoofsaaklik verband hou met die geweld in klaskamers.
# En The Citizen:
Skryf ‘n privaat hospitaal in Gauteng moes sy deure sluit nadat die Padongelukkefonds versuim het om 300-miljoen-rand te betaal. Die mede-eienaar sê dit gaan nie net oor geld nie, dit gaan oor menselewens wat gered word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor ‘n boelie-video wat aan die lig gekom het by die Hoërskool Milnerton waar ‘n groep matriekleerders na bewering ‘n graad 10-leerder met hokkiestokke aanrand. Op die video probeer die slagoffer nog met sy boelies onderhandel, maar hulle gaan in elk geval voort. Die polisie ondersoek ‘n saak van aanranding om ernstig te beseer.
En tweedens skryf die koerant oor nóg ‘n video wat opslae gemaak het. Dit is van ‘n leeumannetjie wat naby Lichtenburg onderweg van die Vrystaat na Noordwes uit die sleepwa ontsnap. Die leeu het na die voorval veilig by sy bestemming aangekom maar die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake, Bewaring en Toerisme van Noordwes gaan steeds ondersoek instel.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die diensleweringskrisis in die Kumkani Mhlontlo plaaslike munisipaliteit het nou verder agteruit gegaan nadat die bestuurder bedank het.
En tweedens skryf die koerant perlementslede wat ‘n oorsigbesoek aan Fort Hare-universiteit gebring het, sê daar moet dringend ingegryp word sodat die instelling nie tot stilstand kom nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens die munisipaliteit het die lys van gekaapte geboue in die stad bekend gemaak.
En tweedens berig die koerant ook oor die leeu wat naby Lichtenburg uit ‘n sleepwa ontsnap het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese ministerie van Onderwys, Vernuwing, Jeug, Sport, Kuns en Kultuur gaan na verwagting meer as 800-miljoen-rand ontvang vir registrasie- en klasgelde vir die eerste kwartaal volgende jaar vir goedgekeurde gesubsidieerde gratis tersiêre onderwys.
Dan skryf die koerant nog ‘n grubotsing, die keer tussen ‘n bussie en ‘n vragmotor, het nege lewens geëis en dit stoot Namibië se padsterftes vir die jaar op tot 414.
En laastens is daar nuus oor die filmbewaringsprojek wat films wil bewaar wat sedert onafhanklikwording op onder meer nasiebou gefokus het.