Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Oktober 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Is een van die eerste nuusblaaie wat vandag oor die getuienis by die Madlanga-kommissie verslag doen. ‘n Speurder wat anoniem getuig het, sê ‘n polisiespeurder, Michael Pule Tau is twee uur nadat die ingenieur Armand Swart in April 2024 vermoor is, met 15 leë patroondoppies gevind, maar ‘n ballistiese verslag van die Gautengse polisie het belangrike inligting oor die patroondoppies weggelaat.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook oor die geheime getuie voor die kommissie. Hy het aan die kommissie gesê hy, ‘n kollega en die landdros in die borgtog-vehoor van die beskuldigdes is na bewering omkoopgeld aangebied. ‘n Senior polisieoffisier het ook alles in sy vermoë gedoen om inligting oor die moordsaak te bekom.
Dan skryf die webblad kenners is van mening daar moet gebeurlikheidsplanne vir alle wedlope opgestel word. Dit volg nadat die Kaapstad-marathon op die nippertjie gekanseleer is weens weersomstandighede. Hulle sê ‘n marathon kan nie impulsief afgestel word nie.
En laastens word berig Britse parlementslede het geëis dat alle koninklike titels van prins Andrew gestroop moet word nadat nog inligting oor sy beweerde verhouding met ‘n minderjarige Virginia Giuffre op die lappe gekom het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die klas van 2025 maak vandag gereed vir hul finale matriekeksamen, met kommer wat bestaan oor Suid-Afrika se volgehoue skoolverlatersprobleem. Terwyl meer as 715-duisend leerders vir vanjaar se eksamen geregistreer is, het byna 450-duisend reeds die stelsel verlaat sedert hulle in 2014 met graad 1 begin het.
# Sowetan:
Berig ook oor die speurder wat anoniem gebly het. Hy het aan die Madlanga-kommissie vertel ‘n senior polisieoffisier het die ondersoekers omkoopgeld aangebied en een van die verdagtes het bande met die Valke en ‘n taxibaas.
# En The Citizen:
Skryf oor ‘n voorval in Bekkersdal aan die Wesrand waar metropolisiebeamptes beslag wou lê op die gesteelde voertuig van ‘n vermeende onwettige mynbaas. Die polisie het egter die metropolisiebeamptes gearresteer en die afgelope week aangehou.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die geheime getuie se getuienis. Die koerant berig ook oor die sogenaamde drie koeverte wat vir die ondersoekers en landdros voorberei is.
En tweedens skryf die koerant die Universiteit Stellenbosch gaan die rektorswoning wat hy in 2023 teen meer as 30-miljoen-rand gekoop het weer in die mark sit.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane sê die oorlog wat in die polisiediens woed, toon ‘n morele skeur in die siel van die ANC.
En tweedens skryf die koerant parlementslede wat ‘n oorsigbesoek aan die Oos-Kaap gebring het, is meegedeel daar is ’n reuse-agterstand in die skoolbouprogram.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli sê hy wil dit verpligtend maak dat elke munisipaliteit vir moontlike rampe begroot.
En tweedens wens die koerant die provinsie se matrieks sterkte toe met die eksamen wat vandag begin.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibiese leerkragte sal nie meer op ‘n enkele kwalifikasie kan skoolhou nie. Die regering beoog ‘n wetsontwerp vir onderwysers wat daarop gemik is om die onderwyssektor te professionaliseer, in pas met globale standaarde te bring en aanspreeklikheid af te dwing.
En tweedens skryf die koerant Stad Windhoek sê die huidige salarisse van die stakende skoonmakers van net meer as vyf-duisend-rand per maand is billik.