Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Oktober 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Moody’s verwag dat Suid-Afrika se werklike BBP-groei volgende jaar tot sowat 1,6-persent sal styg. Dit is die mees optimistiese voorspelling van die drie groot graderingsagentskappe. Moody’s waarsku egter skuld moet volhoubaar verminder wod.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis sê president Cyril Ramaphosa se aanval op die DA se bestuur in die stad is niks anders as skadebeheer nie. Hy sê dit gaan oor Ramaphosa se DA-uitlating vroeër. Ramaphosa sê daar is nie betekenisvolle uitwissing van ongelykheid in Kaapstad nie.
Dan skryf die webblad die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder van die polisie, Eugene de Kock wil getuig in die geregtelike doodsondersoek van die Cradock-4. Sy gesondheid word nou eers gemonitor om te verseker hy kan wel die reis aanpak.
En laastens word berig ‘n matriekafskeid in Franschhoek het tragies geëindig toe een van die leerders, die 18-jarige Merlin Jephtas aan ‘n asma-aanval oorlede is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Ramaphosa sal dalk moet voldoen aan hernude versoeke om ondersoek te word nadat hy gister in die Parlement erken het dat hy die omstrede figuur Hangwani Maumela ken. Maumela word verbind met die beweerde plundering van meer as twee-miljard-rand by die Tembisa-hospitaal.
# Sowetan:
Lei met: “SIYAYA eAMERICA”. Die koerant berig Bafana Bafana het vir die eerste keer sedert 2002 gekwalifiseer vir die 2026 FIFA-wêreldbekerkampioenskap in Amerika, Mexiko en Kanada.
# En The Citizen:
Skryf die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het uiteindelik sy provinsiale gesondheidshoof, Lesiba Malotana geskors. Dit volg nadat die Spesiale Ondersoekeenheid klopjagte uitgevoer het in verband met die Tembisa-hospitaalskandaal.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Ramaphosa.
En tweedens skryf die koerant die vierjarige Luke Peterson is die naweek doodgery terwyl hy op die sypaadjie voor sy huis in Bonteheuwel gespeel het. Die polisie stel ondersoek in.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig eerstens daar is ‘n dringende beroep vir optrede aangesien die skoolvervoerstaking besig is om uit te kring.
En tweedens skryf die koerant die Mnquma-munisipaliteit het ‘n spesiale projek teen rondloperdiere van stapel gestuur.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die regering bied spesiale aansporings aan vir staatsamptenare om af te tree.
En berig die Dierebeskermingsvereniging stel ondersoek in na dieremishandeling by ‘n hoenderplaas.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ouma van ‘n vyfjarige meisie wat in Okahandja vermoor is, sê haar skool se beweerde nalatigheid was verantwoordelik vir haar kleindogter se dood.
Dan skryf die koerant die minister van Werke en Vervoer, Veikko Nekundi sê die tyd is verby dat enigiemand ’n bestuurskool kan oopmaak.
En laastens is daar nuus oor drie Belge wat ‘n Poolse avonturier se Namibiese roete van dekades gelede met fietse aanpak.