Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Oktober 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Wetstoepassingsagentskappe het gister ‘n omvattende optrede teen beweerde korrupsienetwerke van stapel gestuur, met die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya en sakeman Hangwani Maumela as teiken. Die polisie het op Sibiya se huis in Johannesburg toegeslaan en op van sy persoonlike toestelle, insluitend ‘n skootrekenaar en drie selfone, beslag gelê. Sibiya het aan die media gesê hy vrees ‘n dreigende inhegtenisneming.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook oor die klopjag by Sibiya se huis. Die koerant skryf die wetstoepassers het ook probeer om op die elektroniese toestelle beslag te lê van die geskorste polisieminister, Senzo Mchunu en sy stafhoof, Cedrick Nkabinde.
Dan skryf die koerant die polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola het aan die ad hoc-komitee gesê Mchunu het geen redes verskaf vir die ontbinding van die polisie se moordtaakspan nie.
En laastens word berig die 19-jarige plaasvoorman, Adriaan de Wet het as staatsgetuie begin getuig in die opspraakwekkende varkhok-moordsaak.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf gister se klopjagte het op ‘n polities sensitiewe oomblik ontvou, met president cyril Ramaphosa en adjunkpresident Paul Mashatile albei uit die land. Die koerant berig dit gee aanleiding tot bespiegeling oor die tydsberekening.
# Sowetan:
Lei met: “DAGGERS DRAWN”. Die koerant berig daar het nou ‘n volslae oorlog uitgebreek tussen die lede van die polisie se topbestuur en beskuldigings word heen en weer geslinger.
# En The Citizen:
Berig oor die dreigende gevaar by Suid-Afrikaanse lughawens sou daar ‘n bomaanval wees. ‘n Kenner, Jimmy Roodt sê daar word nie voldoen aan internasionale veiligheidstandaarde nie en verslae in die verband word deur die owerhede geïgnoreer.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde berigte as Netwerk24 oor die optrede teen Sibiya. Die koerant skryf Sibiya sê hy voel soos Josef wat deur sy broers veraai is.
En tweedens skryf die koerant ‘n vrou in haar veertigs het van die boonste vlak van die Cavendish-winkelsentrum in Claremont na haar dood geval. Die polisie ondersoek die oorsaak en omstandighede.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig daar is meer as 500-miljoen-rand se skade aangerig tydens die gewelddadige studentebetogings op die kampus.
En skryf vandale het toegesak op ‘n dienssentrum wat teen ‘n koste van 79-miljoen-rand opgerig is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die ANC in KwaZulu-Natal sê hy is gereed om die regering van provinsiale eenheid te verlaat.
En tweedens berig die koerant ook oor Sibiya wat sê hy word uit alle oorde aangeval.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese eerste minister Elijah Ngurare gaan ongekende gesag oor staatsondernemings kan uitoefen, aangesien hulle regstreeks aan hom verslag moet doen.
Dan skryf die koerant Tsumeb het ‘n nuwe waterbehandelingsaanleg, maar niemand om dit te bedryf nie.
En laastens is daar nuus oor leerders in Windhoek wat regstreeks met ’n ruimtevaarder aan boord van die Internasionale Ruimtestasie gesels het.