Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Oktober 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, het voor die ad hoc-komitee die DA-LP Dianne Kohler Barnard beskuldig dat sy ‘n geheime teenintelligensie-operasie in die gedrang gebring het. Hy het ook versoek dat joernaliste tronk toe gestuur word vir die beriggewing oor geklassifiseerde intelligensie-aangeleenthede. Die koerant skryf die lewens van agente in Gauteng is in gevaar gestel nadat foto’s van ‘n polisie-veiligehuis in die openbaar versprei is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig vandag eerstens oor die Varkhok-saak in Polokwane. Sakkie Olivier wat aangekla word van die moord op twee vroue het getuig hy het gedink die vroue is deel van ‘n sindikaat wat sy melk steel.
Tweedens skryf die webblad ook oor Mkhwanazi se getuienis. Hy het gesê “die land sal brand” indien die besonderhede oor interne ANC-veldtogte bekend gemaak word. Volgens Mkhwanazi is die bewyse hiervoor in die besit van misdaadintelligensie.
En laastens is aangekondig die oorlede SA ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa sal ‘n staatsbegrafnis ontvang.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor Mkhwanazi en fokus op sy oproep dat joernaliste wat intelligensie-operasies ontwrig ondersoek moet word.
# Sowetan:
Berig Mkhwanazi het in sy getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee gesê Gauteng se sogenaamde misdaadbewaarders, die Amapanyaza is onwettig.
# En The Citizen:
Skryf volgens ‘n fluitjieblaser het amptenare by die Padongelukfonds fakture vervals vir luukse vakansies en hotelhuisvesting. Daar het na wat berig word 10-miljoen-rand so verlore gegaan.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde berig as Netwerk24 oor Mkhwanazi.
En tweedens skryf die koerant oor die motorfietsongeluk in Bothasig wat die lewe van die 19-jarige Aldan Ruger geëis het.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig LP’s wat ‘n oorsigbesoek aan die gevangenisse in Oos-Londen gebring het sê julle is geskok deur die haglike omstandighede.
En tweedens skryf die koerant die Fort Hare-universiteit het ‘n interdik verkry teen stakende studente wat die akademiese program ontwrig.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die veroordeelde moordenaar en voormalige polisiebeampte Morné Croesser is an ‘n hartaanval oorlede. Hy is in 2010 tot 18 jaar gevonnis vir die moord op sy vrou Erika maar in 2022 op parool vrygelaat.
En tweedens word berig die Haaie is besig met hul voorbereidings vir hul kragmeting teen Leinster.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig tuisgemaakte bandspykers wat op die C28 in die Namib-Naukluft Nasionale Park gegooi is, is glo die werk van wildstropers wat hulle agtervolgers vertraag.
Dan skryf die koerant motoriste is wetlik verplig om voorrang te gee aan konvooie wat die president, visepresident of eerste minister vervoer.
En laastens skryf die koerant die vier groot boere-unies, die president en die ministerie van Landbou, Visserye water en Grondhervorming is vanjaar vir die eerste keer ooit saam op die verhoog by die Landbou-vooruitskouingskonferensie.