Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Oktober 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die adjunkminister van Finansies, David Masondo, het die besluit van die Openbare Beleggingskorporasie om sy hoofbeleggingsbeampte, Kabelo Rikhotso, te skors, as ‘n bestuursbesluit bestempel. Rikhotso is deur ‘n  fluitjieblaser van onbehoorlike gedrag beskuldig.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig generaal-majoor Johan Booysen en nog 22 lede van die Valke se Cato Manor-eenheid se siviele eis teen die minister begin vandag. Dit volg nadat Booysen en sy span in 2012 as moordbende uitgemaak is en in hegtenis geneem is.

Dan skryf die webblad familie het Saterdag by die Witkruismonument vir Plaasmoorde hulde gebring aan afgestorwenes. Die terrein is teen die N1 tussen Polokwane en Mokopane.

En laastens word berig die lykskouing op die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa sal moontlik vandag voltooi word. Die familie hoop sy oorskot word vandag beskikbaar gestel.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf ActionSA se nuut aangekondigde Ekurhuleni-burgemeesterskandidaat, Xolani Khumalo, het verskeie kritieke kwessies geïdentifiseer wat hy beplan om aan te spreek indien hy as burgemeester verkies word. Dit sluit in wanadministrasie, die hoë misdaadsyfer, korrupsie en wydverspreide dwelmprobleme binne die gemeenskap. Die koerant vra egter of daar van ‘n televisiester verwag kan word om ‘n metro te red.

# Sowetan:

Berig dis nege maande ná die Usindiso-brand waarin 76 mense omgekom het en die Johannesburgse Metro het nog nie ‘n verslag uitgereik nie. Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi sal nou ingyp.

# En The Citizen:

Skryf dis ‘n ope vraag of die leier van ActionSA, Herman Mashaba teen die DA se Helen Zille gaan staan vir burgemeester van Johannesburg in volgende jaar se verkiesing.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens oor die suksesse van Eskom soos uiteengesit deur die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa. Dit blyk dat die kragvoorsiener se opwekkingsvermoë nou so sterk staan dat beurtkrag iets van die verlede is.

En tweedens skryf die koerant twee polisiesersante is in ‘n lokval gelei oor ‘n ietermagog.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Skryf oor die mense van Walmer wat kla oor die straatsmouse voor hul winkels.

En berig oor ‘n prinsipaal wat nou in die moeilikheid is omdat hy warm water op oproerige leerders gegooi het.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Berig daar was soveel inhegtenisnemings vir verkeersoortredings die afgelope naweek dat daar nie meer plek in die polisieselle in Pietermaritzburg is nie.

En tweedens skryf die koerant oor die vullis om die premier se kantoor.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings van Namibië het bevestig dat hy hervormingsadvies aan die regering voorgelê het oor die staat se mediese fonds Psemas. Die regering het die afgelope boekjaar bykans vier-miljard-rand aan die fonds bestee.

En tweedens skryf die koerant die Namibiese Parlement het toegegee dat hy nie ‘n amptelike meganisme het om die groeiende agterstand van onbeantwoorde parlementêre vrae te hanteer nie.