Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Oktober 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die ANC het erken dat misdaadnetwerke sy geledere binnegedring het, die mislukking van die regeringsprojekte aangehelp het en openbare vertroue ondermyn het. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula sê die party is geïnfiltreer deur misdadige elemente, insluitend georganiseerde kartelle, wat die organisasie skade berokken.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Lei met: “MASHABA VS ZILLE” Die koerant skryf daar bestaan ‘n persepsie dat die kiesers bang is vir die DA.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa het moontlik nie selfdood gepleeg nie. Dit is volgens sy broer, Khulekani, die familie se uitgangspunt. Hy sê hulle wag vir die Franse polisie se voorlopige verslag wat Sondag uitgereik sal word.

Tweedens skryf die webblad kenners is van mening dat die EFF-leier, Julius Malema wel tronkstraf kan uitdien vir die wapenoortredings waaraan hy skuldig bevind is.

En laastens word berig Rensche en Anton Bougas, die ouers van die omstrede Anthonie sê hulle sal hulle volle samewerking gee om vas te stel wat by Kleuterzone skeefgeloop het.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Spesiale Ondersoekeenheid se tussentydse verslag het blootgelê hoe die sindikate standaard tenderprosesse omseil het om die Tembisa-hospitaal van meer as twee-miljard-rand te plunder. Die ondersoek het bevind dat korrupte amptenare met die diensverskaffers saamgesweer het om swakpunte in die verkrygingstelsel uit te buit.

# Sowetan:

Berig die ANC het versoek dat die VN optree oor die Gaza-hulpbote wat deur Israel in beslag geneem is. Die koerant skryf Ndaba Mandela sê die familie het uitgereik na kontakte in die VSA om te help om sy neef, en kleinseun van oudpresident Nelson Mandela, Mandla Mandela wat op een van die bote was, vrygelaat te kry.

# En The Citizen:

Lei met “SA’S HIDDEN SEX TRADE”. Die koerant skryf duisende Suid-Afrikaanse vrouens gebruik aanlynplatforms om ‘n belastingvrye ekstra inkomste te verdien. Die bedryf is sowat ses-miljard-rand per jaar sterk.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met dieselfde storie oor Nathi Mthethwa as Netwerk24.

En tweedens word berig ‘n dapper brandbestryder het 20-meter in ‘n denneboom in Hartenbos opgeklim om die African Grey-papegaai, Floki, te red.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig ook oor Mandla Mandela en skryf die Mandela-familie bid vir sy veilige terugkeer.

En tweedens skryf die koerant die Mthatha-kunssentrum is te belangrik om gesluit te word.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar word toenemend uit nasionale en internasionale oorde geëis dat Mandla Mandela vrygelaat word.

En tweedens skryf die koerant die polisie het beslag gelê op nagemaakte Springbok-handelsware.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig van dobbelmasjiene tot parkeermeters gaan opgegradeer moet word om die nuwe banknoot- en muntreeks te hanteer.

Tweedens skryf die koerant meer as 700 kinders onder vyf jaar sterf jaarliks aan voorkombare siektes omdat net 45-persent van Namibiese huishoudings toegang tot handwasgeriewe het.

En laastens is daar nuus oor ‘n Namibiese plaasnooi wat haar drome uitleef in die Britse vloot.