Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Oktober 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Eskom wil sy beleggingstatus verbeter nadat die regering die staatsonderneming vir meer as ‘n dekade aan die gang gehou het. Eskom is op soek na beleggings van miljarde-rand oor die volgende vyf jaar vir die instandhouding en uitbreiding van sy infrastruktuur.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die afsterwe van ‘n voormalige Vrystaatse Jongboer van die Jaar, Albé Grobbelaar van Luckoff. Hy is aan malaria oorlede. Sy vrou, Sonia is steeds in ‘n kritieke toestand en sy seun Louis sterk goed aan. Dit is onduidelik waar die gesin die siekte opgedoen het, want hulle het nie die Vrystaat verlaat nie.

Dan skryf die webblad die Solidariteit-beweging is bekommerd dat die Suid-Afrikaanse regering se gesloer met onderhandelinge oor handelsbetrekkinge met die VSA tot verdere tariefverhogings kan lei.

En laastens word berig die primatoloog en wêreldwye kampvegter, doktor Jane Goodall, is op 91-jarige ouderdom oorlede.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf Nathi Mthethwa se familie het bewerings dat hy sou selfdood pleeg, verwerp. Sy broer, Khulekani Mthethwa, sê Nathi is gemartel tydens die apartheidsregime en hy het nooit oorweeg om sy eie lewe te neem nie.

En tweedens word berig die weduwee van die uitvoerende hoof van die Tembisa-hospitaal, Lerato Mthunzi sê haar man was nooit by enige bedrog betrokke nie.

# Sowetan:

Lei met: “IS THIS THE BEGINNING OF THE END?” Die koerant berig oor die skuldigbevinding van die EFF-leier, Julius Malema aan vuurwapenoortredings. Hy kan as parlementslid geskors word indien hy ‘n vonnis van meer as 12 maande opgelê word.

# En The Citizen:

Skryf daar is steeds talle vrae oor die dood van Nathi Mthethwa en die Franse polisie ondersoek die voorval as selfdood. Die koerant berig daar moet nie uit die oog verloor word dat sy naam by die Madlanga-kommissie genoem is nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens ook oor Malema se skuldigbevinding. Die koerant skryf hy is van plan om die hof se bevinding tot in die Konstitusionele Hof te toets. Terwyl politieke partye die uitspraak verwelkom, sê die EFF die skuldigbevinding is ‘n aanslag op die party.

En tweedens skryf die koerant oor ‘n Pretorianer wat binne sewe maande 49-miljoen-rand met aanlyndobbel gewen het. Hy het 18-miljoen, drie-miljoen en toe weer 18-miljoen-rand gewen.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig parlementslede gaan die Oos-Kaapse munisipaliteite wat swak diens lewer voor stok kry.

En skryf die provinsiale voorsitter van ActionSA, Athol Trollip, sê apartheid is steeds aan die orde van die dag.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar is talle vrae oor die pensioene van die Amakhosi.

En berig die twee bobbejane in die Durbanse hawe gaan nou DNS-toetse ondergaan om hul herkoms vas te stel.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namibiese minister van Gesondheid en Maatskaplike Werk, dokter Esperance Luvindao, sê pasiënte is baie belangrike persone en staatsgeriewe moet dit weerspieël.

Dan skryf die koerant die fotograaf wat ‘n erg verbrande olifant in die Etosha Nasionale Park afgeneem het, sê hy hét dit by Okakuejo aangemeld.

En laastens is daar nuus oor die Zimbabwiese boer, Ben Freeth, wat sy jongste rit te perd na Kaap Kruis voltooi het.