Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Oktober 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Is een van talle nuusbronne wat vandag berig oor die dood van die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa. Die koerant skryf die voormalige minister het volgens die Franse koerant Le Parisien van die 22ste verdieping van ‘n hotel in Parys gespring.
# En die Netwerk24-webblad:
Sit die beriggewing oor Mthethwa voort. Die webblad skryf die venster van ‘n kamer op die 22ste verdieping van ‘n Hyatt Regency-hotel in Parys is skynbaar met ‘n sker oopgedwing. Mthethwa se liggaam is in die binnehof van die hotel gevind.
Tweedens skryf die webblad ‘n Suid-Afrikaanse vrou wat reeds agt jaar in die VSA woon, is moontlik een van die slagoffers van die skietery by die Mormoonse kerk in Michigan. Thelma Armstrong se suster, Belinda Janse van Rensburg sê sy is in kennis gestel haar suster is dood.
En laastens is daar nuus oor ‘n groep seuns van die Hoërskool Vredendal wat glo naakfoto’s van klasmaats met behulp van KI geskep en versprei het. Die skool moet nou besluit hoe om op te tree.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Tembisa-hospitaalskandaal het ‘n storm van kritiek teen die regering van nasionale eenheid ontketen en gelei tot dringende oproepe dat vervolging ingestel moet word. Politici en ontleders eis dat diegene wat verantwoordelik is, strafregtelik aangekla word.
En tweedens berig die koerant ook oor Mthethwa en gee ‘n oorsig van sy loopbaan.
# Sowetan:
Berig oor die Madlanga-kommissie en oor getuienis hoe minister Senzo Mchunu beïnvloed is om die politieke moordtaakspan te ontbind.
En tweedens skryf die koerant die Franse owerhede ondersoek die dood van Mthethwa.
# En The Citizen:
Skryf die Franse polisie ondersoek die dood van Mthethwa as ‘n selfdood. Die koerant meld ook dat hy een van drie polisieministers is wie se naam by die Madlanga-kommissie genoem is oor inmenging in die polisie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig soos Netwerk24 ook oor Mthethwa en die seuns van Vredendal.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die rampbestuursentrum in Limbode is byna voltooi.
En skryf bejaardes word verplig om hul karige pensioene op drinkwater te bestee nadat die krane opnuut opgedroog het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig ook oor die dood van Mthethwa.
En tweedens skryf die koerant die naderende spertyd vir AGOA het ‘n negatiewe uitwerking op die ekonomie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die verwoestende veldbrand wat in meer as ‘n week meer as een-miljoen-hektaar in en om die Etosha Nasionale Park verswelg het, is onder beheer en geen menseverlies is gely nie.
En tweedens skryf die koerant vertragings in regeringsprojekte in Kavango-Oos, waar armoede tans onder 70-persent van die bevolking voorkom, ondermyn armoede-uitwissing.