Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 September 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Die Nasionale Energiereguleerder, Nersa het ‘n senior personeellid geskors en ‘n onafhanklike oudit gelas ná hulle fout van 54-miljard-rand in die berekening van Eskom se inkomstevereistes wat gebruik word om tariefverhogings vas te stel.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die moord op die regse aktivis en Trump-ondersteuner, Charlie Kirk is as ‘n politieke moord bestempel. Hy is doodgeskiet kort nadat hy ‘n praatjie by die Utah Valley-universiteit gelewer het.

Tweedens skryf die webblad oor die 64-jarige Christo Nel van Gqeberha wat in die hof verskyn het nadat hy na bewering sy 87-jarige ma Ria doodgeskiet het. Dit blyk hy wou bloot haar lyding verlig aangesien sy reeds lank bedlêend was.

En laastens word berig die parlementêre portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste het daarop aangedring dat G4S se kontrak by die Mangaung-gevangenis onmiddellik beëindig word,

GAUTENG:

# The Star:

Skryf Johannesburg se waterkrisis het woedende protesoptogte in Coronationville ontketen, wat die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, genoop het om ‘n noodvergadering te belê. Woedende inwoners van Coronationville het die strate ingevaar en paaie met brandende bande, klippe en vullis versper. Ten minste 11 beserings is aangemeld nadat die polisie rubberkoeëls gebruik het om die skare uiteen te dryf.

# Sowetan:

Berig leerders van die Tshepong Secondary School in Evaton, Emfuleni kan slegs vir drie uur per dag skool bywoon aangesien daar geen water is nie. Leerders dreig nou om die skool heeltemal te sluit.

# En The Citizen:

Skryf ook oor Nersa se berekeningsfout waarvoor die belastingbetaler nou sal moet opdok. Volgens die DA plaas dit die tarief vir die 26/27-boekjaar op 8,76-persent in plaas van 5,36-persent.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens oor die erkenning van die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia dat daar geen plan bestaan om die bendegeweld in die Wes-Kaap te bekamp nie en die gevolglike reaksie daarop. Daar is glo ‘n plan voorgelê, maar dit is nog nie in werking gestel nie. Die koerant skryf daar is intussen nog ses mense doodgeskiet.

En tweedens is daar nuus oor hoe jy jou motorlisensie eersdaags by die McDonalds-kitskosrestaurant kan hernu.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig Sassa in die Oos-Kaap het 19-duisend ontvangers van toelaes geïdentifiseer waar moontlik bedrog gepleeg word.

En skryf een van die getuies in die Lusikisiki-slagtingsaak het getuig hy is deur een van die beskuldigdes gedreig.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf Newcastle is bekommerd oor ArcelorMittal se gebrek aan kommuniksie oor die afleggingsproses wat die dorp se ekonomie kan vernietig.

En berig tweedens meer geld word benodig om Kwazulu-Natal se grens te beheer.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die ministerie van Gesondheid sê tussen 16- en 20-persent van mense wat ’n selfdoodpoging oorleef, sal dit binne ’n jaar weer probeer.

En tweedens skryf die koerant terwyl Namibië se noordelike wapensmokkelroetes na Angola glo uitbrei, toon bewyse dat smokkelary suidwaarts na Wes-Kaapse bendes steeds gevestig is.