Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 September 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa het Brics aangespoor om ‘n ekonomiese strategie te finaliseer wat daarop gemik is om handel en belegging tussen die blok se lande te versterk as ‘n manier om toenemende beskermingsoptrede en wêreldwye ekonomiese onsekerheid teen te werk.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig oor die sluipmoord op die Johannesburgse prokureur Bouwer van Niekerk. Die webblad skryf aanvalle op regslui kring uit en dit lei tot ‘n morele en grondwetlike krisis.

Tweedens skryf die blad adjunkhoofregter Mbuyiselli Madlanga het met Ramaphosa geskakel oor die spertye van die regterlike kommissie van ondersoek na politieke inmening in die polisie. Die kommissie begin nou op 19 September met sy werksaamhede.

En laastens word berig Vrystaat Landbou is geskok maar nie verbaas nie dat die provinsie se aantal bevestigde bek-en-klouseer-gevalle nou reeds op 17 staan.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die leier van Operasie Dudula, Zandile Dabula, het Zimbabwe se regerende party, Zanu-PF, gekritiseer nadat dit die beweging se standpunt oor buitelandse burgers wat toegang tot gesondheidsorg in Suid-Afrika het, veroordeel het. Dabula sê Suid-Afrika sal nie deur buitestaanders voorgeskryf word nie en het Zanu-PF se bewerings dat Operasie Dudula verdelings uit die koloniale era bevorder, verwerp.

# Sowetan:

Berig die Amapanyaza of misdaadbewaarders in Johannesburg is maklike teikens vir misdadigers.

# En The Citizen:

Skryf vyf mense sal môre in die hof verskyn op aanklagte van moord en kwaadwillige saakbeskadiging na aanleiding van die Jagersfontein-slikdamramp drie jaar gelede. Nie een van die slagoffers het tot dusver vergoeding ontvang nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook soos Netwerk24 met die sluipmoordaanval op Bouwer van Niekerk en die uitwerking daarvan op regslui.

En tweedens skryf die koerant die 38-jarige vlieërplankryer, Graham Howes wat Sondag by Eden on the Bay vermis geraak het, se liggaam is in die omgewing gevind.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig drankmisbruik en onbeheerbare skares raak ‘n groot probleem op Oos-Londen se strande.

En skryf die hof het ondersoek gelas na die vingerafdrukke in die Fort Hare-universiteit skietvoorval.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf Zoeloe-inkosi of kapteins word na bewering by nog moorde betrek.

En berig mense wat deur hiënas aangeval is, vertel van hul nare ondervinding.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, dokter Esperance Luvindao, sê Namibië kan sowat 221-miljoen-rand bespaar deur ’n omvattende hersiening van sy medisyne-verkrygingstelsel.

En tweedens skryf die koerant die Namibiese Burgerlugvaartowerheid het ‘n streng waarskuwing aan roekelose hommeltuigoperateurs uitgereik.