Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 September 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Transnet het met die herwaardering van sy eiendomme en pypleidings sy netto verlies tot 1,9-miljard-rand vir die jaar tot einde Maart verminder. Die staatsonderneming kon egter nie daarin geslaag om ‘n wins te maak soos dit ‘n jaar gelede gehoop het nie. Sy spoor- en hawebedrywighede het egter ‘n verbetering getoon.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die Proteas se eendagloesing in hul laaste wedstryd in die reeks teen Engeland in Southhampton. Suid-Afrika het die reeks gewen, maar is die naweek met 342 lopies oorrompel.

Dan skryf die webblad die Nasionale Seereddingsinstituut in die Wes-Kaap moes die naweek verskillende reddingstogte uitvoer waartydens ten minste een man van 50 dood is en nog twee mans in afsonderlike voorvalle ernstig beseer is.

En laastens is daar nuus oor die Bok-vroue se nederlaag van 57-10 teen Frankryk in die Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika sal nou Saterdag teen die gedugte Kiwi-span te staan kom.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Nasionale Vervolgingsgesag sal die aansoek van adjunkpresident Paul Mashatile se lyfwagte teenstaan ​​om die aanklagte van aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging teen hulle terug te trek nadat hulle in ‘n interne ondersoek vrygespreek is. Agt lede van die BBP-beskermingseenheid staan ​​tereg op 12 aanklagte van aanranding, kwaadwillige saakbeskadiging, die rig van ‘n vuurwapen, oortreding van die Padverkeerswet, roekelose en nalatige bestuur en regsverydeling.

# Sowetan:

Berig vakbonde sê die huidige afleggings in die staal- en motorbedryf is net die begin en dit sal die land se ekonomie vernietig en mense se bestaan bedreig. Hulle sê die regering moet nou ingryp voor dit te laat is.

# En The Citizen:

Skryf al hoe meer Johannesburgse inwoners is besig om die hofstryd teen die munisipaliteit te wen oor foutiewe munisipale rekenings.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die sluipmoord op die insolvensiepraktisyn, Bouwer van Niekerk van Johannesburg. Sy moordenaars het hulle Vrydag as kliënte voorgedoen en hom in die praktyk se raadsaal doodgeskiet en gevlug. Die polisie sê hulle het nog nie inligting oor verdagtes nie.

En tweedens skryf die koerant die African Transformation Forum het ‘n beroep op die regering gedoen om tienerswangerskappe as nasionale pandemie te verklaar.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane sê die plaaslike regeringsverkiesing van 2026 is maak of breek vir die ANC.

En tweedens skryf die koerant die beskikbaarstelling van grond vir ‘n ouetehuis in Beacon Bay is goedgekeur.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar is talle bejaarde afgetredenes wat sterf voordat hulle hul pensioenvoordele ontvang het.

En berig oor die Italiaanse tiener, Carlo Acutis wat as die Katolieke Kerk se eerste heilige vir die millenium aangewys is.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig terwyl strenger maatreëls oor die bekamping van bek-en-klouseer by grensposte toegepas word, beweeg beeste glo nog steeds onbelemmerd oor die Oranjerivier.

En tweedens skryf die koerant WiMAX-dienste sal volgens Telecom Namibië nie sonder meer opgeskort word nie.