Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig oudpresident Jacob Zuma se regspan het gister die meriete van die minister van Polisie, Senzo Mchunu se verlof betwis. Die koerant berig Zuma en sy MK-party het in die Konstitusionele Hof aangevoer dat die minister afgedank moes word en nie op spesiale verlof geplaas word om plek te maak vir ‘n kommissie van ondersoek nie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig ook oor die MK-party se aansoek in die Konstitusionele Hof. Zuma se regspan het aangevoer president Cyril Ramaphosa se optrede is nie konsekwent nie en die mense van Suid-Afrika het nie nou nog ‘n kommissie van ondersoek nodig nie.

Tweedens skryf die webblad die voormalige kanselier van die Universiteit Stellenbosch, oudregter Edwin Cameron, sê die besluit om Wilgenhof te sluit was ‘n katastrofiese fout en ‘n skandelike misbruik van institusionele mag.

En laastens word berig die produksiemaatskappy Hit Factory dagvaar Wynand de Villiers van Cool Conserts vir twee-miljoen-rand nadat Steve Hofmeyr-konserte in die Kaap en Pretoria gekanselleer is.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf oor ‘n ma wat na bewering ‘n dwelmpyp vir haar kind gegee het om te rook. ‘n Video van die voorval het soos ‘n veldbrand versprei en organissies landswyd is geskok en eis optrede.

En tweedens word berig hoewel die Amerikaanse president, Donald Trump, gesê het hy beplan nie om die G20-beraad in Suid-Afrika by te woon nie, glo ontleders sy teenwoordigheid sal waarskynlik ‘n fokuspunt vir mediadekking word en ander belangrike besprekings oorskadu.

# Sowetan:

Berig daar is talle vrae oor die polisieondersoek nadat die Nasionale Vervolgingsgesag alle klagtes teruggetrek het teen Mduduzi Mnisi wat aangekla is van die moord op die 14-jarige Likhona Fose. Haar liggaam is in ‘n oop stuk veld naby haar huis in Durban Deep in Johannesburg gevind.

# En The Citizen:

Skryf die emigrasie van wit Suid-Afrikaners is opnuut in die kollig met statistiek wat aan die lig gekom het dat nagenoeg 500-duisend die land die afgelope 25 jaar permament verlaat het.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met Cameron se uitsprake oor Wilgenhof.

En tweedens word berig die vrou wat op die R-300 vermoor is toe haar motor gaan staan het, Amanda Manentsa van Khayelitsha, se dogter het net enkele dae voor die moord 11 jaar oud geword.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig daar het gevegte in die Buffalo City-metroraad uitgebreek toe die ANC probeer het om van die burgemeester Princess Faku ontslae te raak.

En tweedens skryf die koerant daar is nog planne met die verskuiwing van Binnelandse Sake se kantoor in Oos-Londen.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf dis vandag D-dag vir die handelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VSA.

En berig daar was chaos tydens ‘n raadsitting van die Msunduzi-munisipaliteit.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die onwettige ontginning van mika duur glo steeds voort in die Dorob Nasionale Park in die Namib.

Dan skryf die koerant twee beskuldigdes in die Namcor-Enercon-brandstofskandaal staar ‘n openbare veilingsbevel vir sowat 5,5-miljoen-rand se skuld in die gesig.

En ten slotte word berig drie topbestuurders van die Nasionale Samewerkingsraad van Namibië is glo by kroeë en kuierplekke gesien terwyl hulle veronderstel was om by ‘n internasionale beraad te wees. Hulle het na bewering sowat 35-duisend-rand elk daar uitgegee.