Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die regterlike kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga sal elke geval van getuiebeskerming afsonderlik hanteer. Die kommissie stel ondersoek in na bewerings van politieke bande met die kriminele onderwêreld.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die bedanking van die DA se woordvoerder oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Emma Powell. Sy sê is gedreig, geteister en onwettig dopgehou oor haar standpunt teen die regering se verhoudinge met die mees onderdrukkende regerings in die wêreld.

Dan skryf die webblad die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die styging van die Parlement se restourasiekoste met twee-miljard-rand is nie uitsonderlik nie want die eerste bedrag wat begroot is was slegs ‘n raming.

En laastens word berig die 60-jarige vrou van Bothaville wat aangeval en verkrag is, is moontlik verlam nadat sy tydens die aanval met ‘n hamer oor die kop geslaan is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die misterie rondom die beweerde dood van die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, het volgens politieke ontleders aanleiding gegee tot samesweringsteorieë, wat ‘n gebrek aan vertroue in wetstoepassing weerspieël. Die koerant berig terwyl die stof gaan lê oor ‘n ooreenkoms van 6,3-miljard-rand tussen die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die voormalige Steinhoff, Ibex Holdings, is die vraag steeds – waar is Jooste begrawe.

En tweedens berig die koerant die Franse president Emmanuel Macron se erkenning van Palestina is ‘n keerpunt vir die Midde-Ooste.

# Sowetan:

Berig oor ‘n voorval waar ‘n jong man met kettings vasgebind en doodgeslaan is by ‘n onwettige dwelmrehabilitasiesentrum. Die Departement van Maatskaplike Werk waarsku daar is talle onwettige sentrums wat oornag verskyn.

# En The Citizen:

Skryf een van die stakende vlieëniers van FlySafair sê indien die voorwaardes van die vlieëniers nie aanvaar word nie kan die redery verwag dat talle gaan bedank.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook met Emma Powell se bedanking.

En tweedens berig die koerant die vrou wat na bewering die nege dae oue baba van Mitchells Plain gesteel het, Shamiema Jacobs, is op borgtog van vier-duisend-rand vrygelaat. Die stap is met gemengde gevoelens begroet.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig planne om die kantoor van Binnelandse Sake na die Hemmingways-winkelsentrum in Oos-Londen te verskuif, kry die wind van voor.

En skryf daar is beroepe uit talle oorde dat die ANC sy provinsiale kongres vroeër moet hou.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Suid-Afrikaanse vrou wat op die Royal Caribbean se passasiersboot Icon of the Seas in die Bahamas deur ‘n kollega met ‘n mes gesteek is, sterk goed aan in ‘n hospitaal in Miami.

En tweedens word berig die watervoorsiening reg oor Pietermaritzburg is onderbreek.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig meer as 18-duisend mense soek grond in Windhoek. ’n Munisipale maatskappy wat die lewering van grond en behuising in Windhoek moet versnel, Novan Actus is ná 3 jaar geregistreer, maar steeds dormant.

Dan skryf die koerant die ma van ’n baba wat dood is nadat ‘n eerstejaar-verpleegstudent haar na bewering met die verkeerde medikasie ingespuit het, het nou ‘n skadevergoedingseis ingedien.

En laastens word berig ‘n politieke kenner sê daar moet gevolge wees vir munisipaliteite met ongunstige ouditmenings.