Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Ibex, wat voorheen as Steinhoff bekend gestaan het, het sy regsgeding teen die staat oor die verbeurdverklaring van meer as 6-miljard-rand laat vaar en ‘n skikking bereik met die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Die skikking hou verband met die oortreding van die land se valutabeheermaatreëls.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf oor die tweestryd agter die skerms in die regering van nasionale eenheid tussen die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, en die federale voorsitter van die DA, Helen Zille oor die afdanking van die minister van Hoër Onderwys en Opleiding.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig oor die skorsing van die Patriotic Alliance se burgemeesterskomiteelid in Johannesburg, Kenny Kunene. Hy sê hy verwelkom die stap want die PA wil nie dieselfde fout as ander partye begaan om probleme onder die mat in te vee nie.

Dan skryf die webblad oor die skokkende bekentenis van Amber Lee Hughes in die Hoogegeregshof in Johannseburg oor die moord op die vierjarige Nada-Jane Thallita.

En laastens word berig die DA het die goedkeuring van die begroting as ‘n geskiedkundige oomblik vir die regering van nasionale eenheid en Suid-Afrika bestempel.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die regering van die Koninkryk van Lesotho sê hy het geloofwaardige inligting oor Basotho wat militêre opleiding op sekere plase in Suid-Afrika ondergaan, om Suid-Afrikaanse grondgebied te beset. Die grond wat geëis word, sluit dele van die Vrystaat, Oos-Kaap, Mpumalanga, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal in.

# Sowetan:

Berig die afslaer wat die Gupta-wonings in Saxonwold van die hand moet sit, sê faktore soos stigma, vrees en hoë pryse dra by tot die rede dat die twee grootste eiendomme nog nie verkoop is nie.

# En The Citizen:

Skryf die omwenteling in die bestuur van Suid-Afrika se wetstoepassingsagentskappe is die oorsaak van die probleem. Die meeste van die hoofde het telkens onder ‘n wolk vertrek.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê hy is gereed om die Bela-wet in die provinsie in te stel.

Daar is ook berigte oor ‘n Matie wat sy luislang teruggekry het en bioniese kakkerlakke wat dalk in oorlogvoering gebruik kan word.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die DA het die “buitensporige” salarisse van die senior bestuur van staatsondernemings in die Oos-Kaap gekritiseer.

En tweedens skryf die koerant die video-opnames van die dodelike skietvoorval by die Walter Sisulu-universiteit het na bewering verlore geraak.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar is rede tot kommer oor die aantal opgeleide mediese personeel wat emigreer.

En tweedens word berig naasbestaandes is omgekrap omdat daar huisvesting op grafte opgerig word.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die ma van die beweerde verkragtingslagoffer van die voormalige landbouminister, Mac Hengari, het haar stilswye verbreek. Sy sê haar dogter is ‘n prostituut.

En tweedens skryf die koerant oor die huis wat die konstruksiemagnaat en eiendomsontwikkelaar, Edmund Lafrenz in 1960 in Windhoek gebou het. Die luukse woning is vandag die Hotel Thule in die hoofstad.