Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die regering het vir die eerste keer in die openbaar die risiko van ‘n staatsgreep erken in ‘n mediavoorligting deur die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni. Sy het kommentaar gelewer op die geredigeerde weergawe van die land se Nasionale Veiligheidstrategie vir 2024 tot 2028 wat in Maart 2024 deur die kabinet goedgekeur is.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig ook oor die regering se hantering van gerugte van ‘n moontlike staatsgreep. Ntshavheni sê die regering is bewus daarvan en het maatreëls ingestel om dit te voorkom.

Dan skryf die webblad die regering is bekommerd dat die DA te velde trek teen die spesiale gesant na die VSA, Mcebisi Jonas. Die DA beweer Jonas is toegang tot die VSA geweier.

En laastens word berig die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu sit sy werksaamhede as parlementslid en lid van die ANC se NUK voort.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf polisievertroue in Suid-Afrika het sy laagste vlak in 27 jaar bereik. Dit is volgens ‘n opname van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Die opname toon dat slegs 22-persent van Suid-Afrikaners vertroue in die polisie uitgespreek het. Dit is die swakste gradering sedert die opname in 1998 begin het.

# Sowetan:

Berig daar is na bewering ‘n misverstand oor die vervolging van ‘n 68-jarige verdagte nadat die 13-jarige Thando Pretty Mahlangu in Germiston doodgery is. Dit blyk dat die polisie die verdagte vrygelaat het.

# En The Citizen:

Skryf met motoruitvoere na die VSA wat reeds met 73-persent afgeneem het gaan president Donald Trump se tariewe ‘n dodelike uitwerking hê in die land se motorbedryf. Die koerant berig duisende werksgeleenthede gaan in die slag bly.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook met die beweerde weiering om Jonas toegang tot die VSA te gee. Die koerant berig volgens die DA is die ANC reeds sedert Mei bewus hiervan.

En tweedens skryf die koerant ook oor Mchunu wat sy parlementêre werksaamhede voortsit al is hy geskors.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die MK-party het ‘n beroep op polisie-offisiere gedoen om na vore te kom en korrupsie te ontbloot.

En tweedens skryf die koerant die ANC gaan optree teen dronk lede wat hulle vergaderings ontwrig.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oor ‘n reuse-luislang wat naby die N-3 aangekeer is.

En berig oor die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus se veranderinge aan die span.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig August 26 Holdings, ‘n privaat maatskappy in staatsbesit, se filiaal August 26 Logistics het 25-persent aandeel in Enercon wat by ‘n korrupsieskandaal betrek word. Daar word beweer dat August 26 in die verlede by verskeie twyfelagtige transakies betrek is.

Dan skryf die koerant Meatco se waarnemende uitvoerende hoof en uitvoerende beampte vir vee-aankope en -produksie, Patrick Liebenberg, is geskors ná ’n formele klagskrif oor beweerde diskriminasie en wanbestuur.

En laastens word berig die minister  van Justisie en Arbeidsverhoudinge, Fillemon Wise Immanuel het homself uitgespreek teen vuurwapen- en alkoholtoetse by myne, maar heftig ontken dat hy homself van wetlike prosedures probeer vrystel.