Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Julie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau sê die bydraes van die privaatsektor vir die Transformasiefonds vir Ondernemings- en Verskaffersontwikkeling, sal afsonderlik gehou en sentraal bestuur word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi het ingrypende onthullings gemaak oor beweerde politieke inmening in die ondersoek van politieke moorde in die provinsie. Mkhwanazi het die minister van Polisie, Senzo Mchunu regstreeks betrek en ‘n strafregtelike ondersoek teen hom aanhangig gemaak. Mchunu het die aantygings intussen ontken.
Dan skryf die webblad twee broers van die rockgroep Akkedis is gister by hul huis in Somerset-Wes aangeval en beroof. Arthur en Rudi Dennis was tuis asook een van die broers se meisie.
En laastens is daar nuus oor die oorstromings in Kaapstad. Die blad skryf honderde mense is geraak deur die oorstromings na swaar neerslae van Vrydag af. Die stad se gesamentlike operasionele beheersentrum is steeds op gereedheidsgrondslag want die Weerdiens het nog reën vir die gebied voorspel.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf terwyl daar huldeblyke instroom vir voormalige adjunkpresident David Mabuza is daar diegene in Mpumalanga wat glo hy het die donkerste politieke geheime saam met hom graf toe geneem.
En tweedens word berig president Cyril Ramaphosa gaan na wat berig word self ingryp ná die onthullings deur Mkhwanazi.
# Sowetan:
Lei met: “DID THE MINISTER SHIELD CRIMINALS?” Die koerant berig die onthullings deur Mkhwanazi het die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie genoop om ‘n dringende vergadering byeen te roep.
# En The Citizen:
Skryf die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille sê president Ramaphosa moet besef dialoog is ‘n tweerigting straat. Niemand kan gedwing word om aan dialoog deel te neem nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die reën en oorstromings in Kaapstad en berig tweedens ook oor die lede van Akkedis wat beroof is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Valke het gewaarsku die ontvoering van die dogter van ‘n nagklubeienaar in Gqeberha is in ‘n sensitiewe stadium. Ebenese Williams is Donderdag kort na sewe die aand buite haar kêrel se huis ontvoer.
En tweedens skryf die koerant ook oor die onthullings in KwaZulu-Natal.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook breedvoerig oor die onthullings van die provinsiale polisiekommissaris.
En tweedens het die koerant ‘n fotobeeld van al die modes by die Durban July die afgelope naweek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se herklassifikasie deur die Wêreldbank as ’n laer-middelinkomste-land kan nuwe befondsingsgeleenthede meebring vir nieregeringsorganisasies.
En tweedens skryf die koerant meer as agt buurte in Okahandja word geteister deur volgehoue rioolwaterstortings wat ernstige kommer oor gesondheid onder inwoners wek.