Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa en sy adjunk Paul Mashatile het hulde gebring aan voormalige adjunkpresident David Mabuza wat gister oorlede is. Ramaphosa het gesê hy is hartseer oor die verlies van ‘n leier wat Suid-Afrika se betrokkenheid by ons landgenote op die vasteland en in die internasionale gemeenskap gevorm het.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Wil weet hoe regverdig dit is dat belastingbetalers 1,1-miljard-rand moet bydra tot poltieke partye terwyl die land ‘n ekonomiese krisis beleef.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig vandag verder oor die borgtogaansoek in die Koster-moordsaak in Rustenburg. Die ondersoekbeampte, luitenant-kolonel Patric Murunwa het getuig Wilma Koster het dapper opgetree deur die aanvallers se voertuig met ‘n kierie by te dam nadat haar man George geskiet is. Sy is kort hierna ook doodgeskiet.

Dan skryf die webblad oudpresident Thabo Mbeki sê die DA se ontrekking aan die Nasionale Dialoog is nie in die party se belang nie.

En laastens word berig die tweede Springbok-toets teen Italië in Gqeberha sal op SABC2 uitgesaai word.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Lei met “HAMBA KAHLE MABUZA”. Die koerant skryf huldeblyke stroom van oral in.

# Sowetan:

Berig oor Mabuza se laaste dae met sy terugkeer na Suid-Afrika nadat hy 21 dae in ‘n Russiese hospitaal deurgebring het.

# En The Citizen:

Skryf plaaslike regering se dreigemente teen inwoners wat inspring en self paaie herstel en selfs hul eie brandweerstelsel gestig het, is misplaas. Die voormalige burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink sê regering moet deel wees van die gemeenskap en nie probeer om dit te oorheers nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die sogenaamde bedrogspoor van die Transnet-bestuurslede wat nou oopgevlek word. Die koerant skryf Brian Molefe en ander gewese senior bestuurders het glo “sakke vol geld” van die Gupta-broers ontvang.

En tweedens skryf die koerant oor Johan Kotze van Riebeek-Wes wat verlede Saterdag sy ekstra rugbykaartjie vir die Bokke se kragmeting teen die Barbarians vir ‘n hawelose man buite die stadion gegee het.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die vasmeer van die MSC Nicola Mastro in die hawe van Ngqura word beskou as ‘n belangrike mylpaal en mosie van vertroue in die Oos-Kaapse hawe se vermoë om as ‘n wêreldwye oordragsentrum te funksioneer.

En tweedens skryf die koerant oor vanjaar se Oesterfees.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die MK-party ontken ten sterkste hulle is besig om in duie te stort as gevolg van interne struwelinge.

En tweedens word berig die Durban July-perderwedren het vanjaar weer ‘n reusebydrae gelewer tot die stad se ekonomie.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig slegs 22 van Windhoek se busvloot van 56 is tans in werkende toestand en uit die staatsvloot van 234 ambulanse van die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste is daar tans net 84 wat in gebruik is.