Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Gautengse regterpresident, Dunstan Mlambo, sê hy sal die nasionale toepassing van verpligte bemiddeling vir siviele sake voor verhoor voorstel. Mlambo is deur die Regterlike Dienskommissie ondervra as moontlike adjunkhoofregter.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die moord op George en Wilna Koster wat op 14 Junie in die parkeerterrein van die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg doodgeskiet is. Twee verdagtes het in die plaaslike Landdroshof verskyn en hulle borgtogaansoek duur voort.

Dan skryf die webblad die leier van die VF Plus, Corné Mulder, wat pas teruggekeer het van die VSA, sê die ANC kan nie meer in die regering van nasionale eenheid alleen beheer uitoefen oor Suid-Afrika se buitelandse en ekonomiese beleid nie.

En laastens word berig die Suid-Afrikaner Lloyd Harris is deur die Rus Andrey Rublev uitgeskakel by Wimbledon.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf Mulder sê hy moet president Cyril Ramaphosa inlig dat die Trump-administrasie geëis het dat Amerikaanse sakeondernemings vrygestel word van alle Swart Ekonomiese Bemagtiging as ‘n voorvereiste vir die normalisering van bilaterale betrekkinge met Suid-Afrika. Die koerant berig daar is meer as 600 Amerikaanse maatskappye in Suid-Afrika.

En tweedens word berig daar is interne gevegte in die MK-party wat verdeeldheid onder partylede saai. Dit volg nadat ‘n groep MK-lede die partypresident Jacob Zuma gevra het vir die verwydering van die party se parlementêre hoofsweep, Colleen Makhubele.

# Sowetan:

Berig amptenare wat ondersoek instel na bedrog en korrupsie in die regering word geteiken deur misdadige elemente. Die hoof van korporatiewe en forensiese oudits in Ekurhuleni, Mpho Mafole is die derde senior amptenaar wat vermoor word.

# En The Citizen:

Skryf al wat oorgebly het van Khutsong se drome oor ‘n groen sportveld met bykomende geriewe is vandag net ‘n stowwerige oop stuk grond met 3,2-miljoen-rand wat verdwyn het.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor Jessica du Preez van Wellington wat op die vooraand van haar man Isaac se begrafnis aan ‘n hartaanval oorlede is. Die familie is gebroke want hulle moet nou nog ‘n geliefde ter ruste lê.

En tweedens skryf die koerant die Wes-Kaap moet gereed maak vir nog swaar reënneerslae wat die provinsie vandag gaan tref.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig Nelson Mandelabaai se afvalbestuur- en vullisverwyderingstelsels is op die rand van ineenstorting, met ‘n verswakkende vloot, ernstige personeeltekorte en stortingsterreine wat amper vol is.

En tweedens skryf die koerant wetenskaplikes het bevestig ‘n parasitiese wurm wat in die oostelike en suidelike Kaap ontdek is, kan moontlik vir kankerbehandeling gebruik word.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ook die probleme in oudpresident Zuma se MK-party is besig om toe te neem as gevolg van interne faksiegevegte.

En berig daar is ‘n moontlikheid van ‘n duisend nuwe werksgeleenthede in Pietermaritzburg

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die onderwysministerie sê 375 Unam-studente is in die aanloop tot die Streek Vyf Jeugspele na die koshuis van die Concordia College verskuif.

En tweedens skryf die koerant die regering en polisie moet 50-duisend-rand in skadevergoeding aan ’n taxibestuurder betaal nadat polisiebeamptes hom ernstig aangerand het.