Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Gautengse regering moet voortgaan om sy skuld van 15,9-miljard-rand vir die geskrapte e-tolstelsel te vereffen ten spyte van begrotingsbeperkings. Die stelsel is in April 2024 ontkoppel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens ses mans waaronder ‘n polisiesersant sal vandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn in verdand met die ontvoering van die 19-jarige Kamogelo Baukudi. Hy is Vrydag ontset en is ongedeerd.
Dan skryf die webblad die Nasionale Vervolgingsgesag is nie besig om ‘n lasbrief vir die inhegtenisneming van die polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola te verkry nie. Dit sou in verband staan met bedrog.
En laastens word berig Grey Kollege Sekondêr in Bloemfontein het van sy matriekleerders gevra om hul koshuiskamers te ontruim. Dit staan na bewering in verband met ‘n interne ondersoek oor ernstige oortredings van die skool se gedragskode.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf Gauteng het die hoogste aantal voertuigkapings. Dit is volgens polisiedata wat daarop dui dat veral gewilde motorhandelsmerke geteiken word. Volgens die syfers word gemiddeld 66 motors daagliks met geweld van bestuurders afgeneem.
# Sowetan:
Berig oor die moord op die 17-jarige Sthenjwa Ntombela wat skynbaar sonder rede doodgekiet is. Die moordenaar word reeds vir ses dae gesoek hoewel hy na bewering bekend is aan die gemeenskap.
# En The Citizen:
Skryf die DA-leier, John Steenhuisen sê die DA kan nie die regering van nasionale eenheid verlaat nie. Hy bly deel ter wille van Suid-Afrika.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die DA se planne om aan die Nasionale Dialoog te onttrek en sy dreigement om ‘n mosie van wantroue in president Cyril Ramaphosa te stel. Dit volg ná die afdanking van Andrew Whitfield. Die koerant skryf die DA moet volgens kenners egter versigtig wees met dreigemente teenoor die president.
En tweedens skryf die koerant die dae lange reënweer in die Wes-Kaap sal nou begin opklaar.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Transnet Nasionale Hawe-owerheid het die verskuiwing van die Dom Pedro-vloeibare massaterminaal van die hawe van Port Elizabeth na die hawe van Ngqura aangekondig.
En tweedens skryf die koerant die ontdekking van die verkoolde liggaam van ‘n 12-jarige meisie wat drie dae vermis was, het ‘n verdere skokkende nadraai gehad met die arrestasie van ‘n familielid in verband met haar moord.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Lei met: “GOVERNMENT OF DISUNITY” en skryf ook oor die bekgeveg tussen die DA en die ANC.
En tweedens word berig Interpol het ‘n ernstige waarskuwing oor kubermisdaad vir Suid-Afrika uitgereik.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig met omvangryke beskermde gebiede in Namibië, kom ‘n groot deel van die land se minerale voorraad uit die gebiede met ongeveer 75-persent van die inkomste uit mynbou. Volgens ‘n gespreksdokument van die regering moet streng beleid opgestel word.
En tweedens skryf die koerant met die samewerking van boere, plaaswerkers, lede van ’n teenstropingseenheid en die polisie met ’n hond is ‘n groep vermeende bosslagters die naweek by Otji vasgetrek.