Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ‘n ondersoek gelas na omstrede beleggings in die ongenoteerde portefeulje van die Openbare Beleggingskorporasie, wat volgens hom ongeveer 170-miljard-rand beloop.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens president Cyril Ramaphopsa het in die Nasionale Raad van Provinsies gesê Suid-Afrika sal nie afstand doen van sy transformasie-agenda nie. Hy sê tydens apartheid het wit mense alles gevat en die rolle moet omgeruil word sodat almal in die land eweredig voordeel trek.
Dan skryf die webblad die Navo-lidlande het in Den Haag ooreengekom om hul verdedigingsbesteding te verhoog tot vyf-persent van hulle bruto binnelandse produk.
En laastens word berig die DA sê indien die Johannesburgse raadslede in die geheim kon stem vir die mosie van wantroue in die burgemeester, Dada Morero, sou dit geslaag het. Die mosie is met 144 teenoor 75 stemme verslaan terwyl 44 lede buite stemming gebly het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf ook oor die mislukte mosie van wantroue in die Johannesburgse burgemeester. Die regerende koalisie is egter steeds ‘n slag toegedien met die speaker van ActionSA, Nobuhle Mthembu wat uit haar pos verwyder is.
En tweedens word berig die voormalige minister van Finansies, Malusi Gigaba het in die Hooggeregshof in Johannesburg daarin geslaag om ‘n interdik teen Showmax te verkry. Dit staan in verband met ‘n program wat glo sy slaapkamersake uitlap.
# Sowetan:
Berig die inwoners van Kliptown, die geboorteplek van die ANC se vryheidsmanifes, sê die lewensomstandighede in die voorstad laat veel te wense oor.
# En The Citizen:
Skryf oor die stryd van jeugdiges om te oorleef. Hoewel talle van hulle nie werkloos is nie en enigiets sal doen om geld te verdien, word hulle swak betaal.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die eerste groep van 214 passasiers het met ‘n groot gesukkel uit Katar in Suid-Afrika aangekom. Die lugvervoer in die gebied is omvergewerp deur die Iran/Israel-konflik. Die koerant skryf daar is nog Suid-Afrikaners wat sukkel om terug te keer huis toe.
En tweedens word berig die 16-jarige seun wat van die moord op Deveney Nel van die Hoërskool Overberg in Caledon beskuldig word, gaan nou ook van verkragting aangekla word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n belangrike sakesentrum in Nelson Mandelabaai, die Swartkops-nywerheidspark, sukkel met strome riool wat in die gebied uitvloei. Dis reeds drie weke gelede by die metro aangemeld.
En tweedens skryf die koerant wedstryde van die OP-rugbyunie is verbied by die Derrick Ferreira-stadion totdat die sekerheid opgeknap is. Dit volg ná ‘n skietvoorval na ‘n wedstryd.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is ’n reuseprojek van stapel gestuur om slaggate in Pietermaritzburg te herstel.
En tweedens word berig die Protea mans- en vrouespanne sal in Maart volgende jaar gelyktydig meeding in Nieu-Seeland in ‘n T20-reeks van vyf wedstryde.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig verskeie pasiënte wat van die Windhoek Sentrale Hospitaal na Oshakati vervoer is, beweer hulle het net twee eiers, drie snye brood en ’n vrug ontvang vir die sewe uur lange reis.
En tweedens skryf die koerant volgens die oorlewende van ’n vliegongeluk se getuienis, het sy pa en die vlieënier kort voor die ongeluk gebeur het, nie reaksie getoon nie.