Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ’n eis van 6,54-miljard-rand teen Transnet, die KwaZulu-Natalse Departement van Vervoer en die eThekwini-munisipaliteit vir verwoestende vloedskade aan die Toyota South Africa Motors se monteeraanleg in Prospecton, Durban, in 2022, kan moontlik die deur oopmaak vir soortgelyke eise deur Suid-Afrikaanse maatskappye wat deur swak infrastruktuur benadeel is.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die moontlike terugkeer van die DA se federale raadsvoorsitter, Helen Zille as burgemeesterskandidaat in Johannesburg laat politieke partye skarrel om sterker kandidate te vind.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die uitgeskopte sekretaris-generaal van die MK-party, Floyd Shivambu se mediakonferensie gister. Hy sê hy gaan ‘n nuwe politieke beweging begin, maar nie bedank uit die MK-party nie. Shivambu het ook onthul die partyleier Jacob Zuma word deur politieke skurke omring wat hom vals inligting voer.
Dan skryf die webblad buitelanders het volgens die Reserwebank in die eerste vyf maande van die jaar Suid-Afrikaanse aandele ter waarde van sowat 111-miljard-rand verkoop. Dit is ‘n algemene tendens in opkomende markte wêreldwyd aangesien beleggers nie bereid is om risiko’s te loop nie.
En laastens word berig ‘n toename in die uitbreking van masels in Gauteng het die Gesondheidsdepartement genoop om die inentingsveldtog te verskerp.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf eerstens ook oor Shivambu en sy aantygings teen sy mede-partylede.
En tweedens berig die koerant die hervatting van Brasiliaanse hoenderinvoere sal volgens kenners bestendigheid bring in die Suid-Afrikaanse voedselbedryf.
# Sowetan:
Berig ‘n tender van twee-miljoen-rand om ‘n afgebrande blok klaskamers by ’n Soweto-skool te herstel, het slegs betaal vir die uitverf van die gebou. Die Onderwysdepartement het egter verslag gedoen dat die werk afgehandel is.
# En The Citizen:
Lei met: “ANOTHER COSTLY TALK SHOP”. Die koerant verwys na die nasionale dialoog wat van Augustus saamgeroep gaan word en na wat berig word 700-miljoen-rand gaan kos.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Floyd Shivambu
En tweedens is daar nuus oor Champion-toffies se hofoorwinning oor Bozza-toffies.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaap het gister ‘n provinsiale roudag gehou. Twee gedenkdienste is gehou vir die slagoffers van die verwoestende oorstromings wat verlede week in die gebiede rondom Mthatha voorgekom het.
En tweedens skryf die koerant die beligting in Nelson Mandelabaai se misdaadgeteisterde strate sloer steeds aangesien ‘n Hooggeregshof-stryd oor ‘n tender om hoëmas-vloedligte te herstel, steeds nie afgehandel is nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar hang ‘n vraagteken oor Floyd Shivambu se politieke toekoms.
En berig oor Brittanje wat opnuut die EFF-leier, Julius Malema se visum-aansoek geweier het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n vierjarige kind is dood en ses mense uit dieselfde huishouding is met die siekte gediagnoseer in ‘n cholera-uitbreking in Opuwa.
En tweedens skryf die koerant die Dierebeskermingsvereniging in Otjiwarongo sê die besluit om 30 katte en 12 honde van kant te maak, is ná deeglike ondersoek deur ‘n veearts geneem.